Ons kry partykeer die indruk daar is nou
iets nuut om vir die Here te doen.
Ons hoor die vraag: “Wat is nou die nuutste
wat julle in jul omgewing vir die Here doen?”

Die vraag is waarop jy jou energie fokus?
Wy jy jou lewe aan opbouende verhoudings,
en aan dinge wat hoop en vreugde gee aan mense?
Of steel die dinge wat jy doen eintlik jou energie?
Maak jy jou kop heeltyd moeg met al die waarom-vrae?

Daar is so baie dinge waaraan ons aandag gee.
Maar God het ‘n duidelike prioriteitslys aan ons gegee.
Ons vind dit in Galasiërs 5:22-23.
Hier skryf Paulus dat God op soek is na liefde, vreugde,
vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,
nederigheid en selfbeheersing.
Dit is die essensie van die uitleef van ons geloof!

Wanneer ons dit doelbewus uitleef onder leiding
van die Heilige Gees, as vrug van die Gees,
gaan ons nie al ons energie stort in vrae wat ons nie
beantwoord kry nie. Dit gaan vir God om die vrede wat
Christus tussen ons en Hom gebring het,
en oor ‘n lewe van blydskap en dankbaarheid in die Here.

Natuurlik beteken dit nie dat ons probleme en vrae
stil swyg nie! Of dat ons ander se opregte waarom-vrae
ignoreer nie. Die belangrike is dat ons nie heeltyd besig
moet wees met “kantlyn” sake nie.
Die grootste antwoord op die seer in ons lewe is nie dat
ons al die antwoorde verstaan of ken nie,
maar dat ons Christus raakloop en vir Hom leef!
Om in die genadige hande van Hom te wees,
is ons antwoord.
Dit is die antwoord op elke vraag uit ons hart.

Ernest