As jy een vraag vir God sou wou vra,
wat sou dit wees?
Dit gaan verskil van persoon tot persoon.
Die skrywer en navorser, George Barna,
het eenkeer so ‘n navorsing geloods.
Toe sê die meeste Amerikaners hulle sou vir
God vra hoekom daar soveel lyding in die wêreld is.
Dit blyk die vraag der vrae in mense se harte te wees.
Hulle wil by God weet hoekom.
Hoekom gaan mense, selfs kinders aan kanker dood?
Hoekom word mense in motor kapings doodgemaak?
Hoekom word kinders mishandel en gemolesteer?
Hoekom verloor hardwerkende mense hul werk?
Hoekom gaan dit goed met slegte mense,
en sleg met goeie mense?
Hoekom antwoord God nie as mense opreg bid nie?
So kan die lys van vrae aangaan...hoekom, hoekom?
Ons het almal hoekom vrae.
Maar wanneer ons regtig ernstig is oor God en oor
die lewe, kom ons nie regtig weg van sulke vrae nie.
Ons kan dit nie wegredeneer met ‘n oor-vroom
kerklike spiritualiteit nie. Ons kan nie eenvoudig sê
dit is maar die sonde nie. Of ons moenie vrae vra nie.
Of ons moet maar glo soos kinders nie.
Die boek Job in die Bybel het dit al duidelik vir ons geleer.
Om nie eers te praat van Asaf in Psalm 73 en Psalm 77 nie.
Of die kritiese Prediker, of ontnugterde Jeremia nie.
Hulle het lyding nooit gelate aanvaar nie.
Hulle het nie gedink Gods water moet maar oor Gods
akker loop nie. Hulle het gewonder, getwyfel,
en selfs woeste dinge kwytgeraak!
Dawid beskuldig God in Psalm 13 van afwesigheid in sy
lewe wanneer hy swaarkry!
Maar, hulle het egter nooit weggeloop van God af nie.
Hulle geheim is dat hulle mét God bly praat het,
en nie net oor Hom gepraat het nie.
Hulle het geworstel om sin te maak van God se wil,
in sy teenwoordigheid! By Hom!
Hulle hou sy hand vas, met hulle waarom-vrae en al!
Ernest