Jeremia is sommer moeilik met die Here.
In Jeremia 15 gooi hy sommer die handdoek in,
oor sy waarom vrae. Hy vertel vir God dat hy
bedrieg is! God het tog belowe dat Hy hom
ten goede na die volk stuur, volgens vers 11.
Dit het egter nie gebeur nie.

Jeremia is nou ‘n verstoteling wat eenkant moet sit.
Dit is die Here se skuld! Vroeër het hy die Here se
woorde gretig verslind, vers 16.
Hy het gedink as hy God se woord met Jerusalem deel,
almal volgens God se woord sal begin lewe.
Maar net mooi niks het hiervan gekom nie!
Jeremia is nou uitgesluit uit die kringe waar daar
gesels en gelag word. Hy is eenkant toe gestoot.
Al wat met hom gebeur het is dat die Here se
verontwaardiging oor die mense se sonde nou in sy
eie hart ingebrand het.
Daarom sê Jeremia, op grond van sy waarom-vrae,
hy kan nie meer op die Here reken nie! Vers 18.

Na Jeremia se klagtes volg God se antwoord.
Maar Hy antwoord totaal anders as wat Jeremia
sou dink. God gee nie allerhande rasionele
verduidelikings oor hoekom sy profeet nou so swaar
kry nie, en hoekom die mense nie na Jeremia se
profetiese woorde wil luister nie.
Al wat God sê is dat Jeremia sy roeping moet nakom.
Ons het nie toestemming om ons rug op God te draai
as ons swaarkry nie.
Asof swaarkry of gemak ons keuse is
in gehoorsaamheid en diens aan die Here nie.
Dit laat ons nogal dink aan Jesus se swaarkry op sy
lydings-weg, in sy roeping en diens en
gehoorsaamheid aan God.
Ons is geroep om deur dik en dun vir God te gaan.
God vra gehoorsaamheid wat oor ons hele lewe strek.

Wat is God se antwoord op ons waarom-vrae?
God se antwoord op ons waaroms is om ons aan
ons roeping en sý nabyheid te herinner!
Moeilike tye is nie rug-draai of padgee tye nie...
Nee, dit is juis vasbyt tyd op God se pad,
saam met Hom!

Ernest