Of ons dit wil weet of nie, mense lees ons.
Ons is dalk die enigste “Bybel” wat hulle lees.
Mense hou ons dop.
Dit is nie altyd duidelik hoekom nie, maar mense
is soos ‘n lynregter by ‘n rugbywedstryd wat net
heel tyd fyn dophou of jy buite die lyne van die
speelveld uittrap. Jy doen jou bes om binne die
lyne te bly, en as jy die een keer uittrap,
dan is dit nuus. Dit word oorvertel.
Daarom dat Paulus vir ons soveel goeie raad hieroor gee.
In Kolossense 4:5 sê hy as ons met mense te doen kry
wat nie Christene is nie, moet ons ons veral goed gedra.
Gebruik elke oomblik om ‘n positiewe invloed op hulle
uit te oefen. Die groot woord is sensitiwiteit.
Ons moet sensitief wees vir wat ons doen en sê.
Mense moet nie ‘n vinger na ons kan wys nie.
Tree in alles wat jy doen so op dat Christus se beeld nie
beskadig word nie. Tree so op dat ander mense ook
só wil doen. Ons dade moet mense nie wegstoot van die
Here af nie, maar mense aantrek na die Here toe.
Ons kom elke dag met mense in aanraking wat nie
die Here ken nie. Waar sal hulle vir God sien?
Hulle kom nie in die kerk nie. Ons kan dalk die enigste
geleentheid wees waar hulle God raaksien en hoor,
waar hulle Jesus aan die werk sien.
En dit is juis in moeilike omstandighede waar hulle
ons “lees”!
Tye wat jou bloed laat kook. Wanneer krisisse dreig.
Wanneer onreg gepleeg word. Dit is dan wanneer mense
kyk of Christene binne die lyne van die speelveld bly,
of uittrap.
Franciscus van Assisi het gesê ons moet ander
van die Here vertel, en indien nodig, gebruik woorde!
Dit laat ons dink. Jy is dalk die enigste Bybel wat mense
rondom jou gaan lees. Daarom moet ons in wysheid
optree en die tyd uitkoop. Elke geleentheid.
Ernest