Paulus skryf oor Tigikus in Kolossense 4:7:
“Ek stuur my goeie vriend Tigikus terug na julle toe.
Hy sal vir julle alles van my kom vertel.
Ek hou regtig baie van hom. Hy werk hard vir die Here.
‘n Mens kan op hom staatmaak. Ek weet,
want ek werk saam met hom.”
Tigikus het, soos Paulus, hard gewerk om die
verlossingsboodskap by gewone mense uit te kry.
Daar word vermoed dat hy een van die sewentig was
wat Jesus uitgestuur het.
Tigikus sit al sy energie daarin om die boodskap
van God uit te kry na die wêreld toe.
Paulus noem hom sy broer wat saam in die juk trek.
In ‘n paar sinne gee Paulus ‘n wonderlike getuigskrif
van hierdie man. Tigikus gee werklik om. Hy stel belang.
Hy wil oral help. Jy kan enige tyd van dag of nag op
sy knoppie druk.
Tigikus het verskil gemaak in mense se lewens.
Hoe sou ons getuigskrif lyk.
Ons kan langs Tigikus gaan staan.
Ons almal het die potensiaal om, soos Tigikus,
‘n groot verskil in mense se lewens te maak.
Al maak ons nog baie foute, kan ons reeds so leef
dat mense die Here Jesus raaksien.
Tigikus is ‘n gewone mens soos elkeen van ons.
Hy was nie ‘n hoë boom of ‘n kollig mens nie.
En gewone mense maak die hemelse verskil vir ander
mense wanneer hulle so leef dat die lig van die Here
deur hulle skyn!
Laat jou lig so skyn!
Ernest