Christene gaan verseker ook deur swaarkry.
Dit is verseker nie lekker om op die grondpad van
swaarkry te wees wat jou soms uitmekaar wil skud nie.
Dit voel later of jou geloof weggeskud word!
Ons moet egter vasgordel met geloof!
Ons moet aanhou glo dat God met ons besig is.
Petrus skryf in 1 Petrus 4:12-13: “My liewe vriende,
as dit so swaar met julle gaan dat julle dit byna nie meer
kan hou nie, moenie sommer daaruit aflei dat julle
godsdiens daarmee heen is nie.
Christene moet ook swaarkry. Dink maar aan Jesus.
Hy het baie swaargekry. Julle moet eerder bly en
opgewonde wees dat julle soos Hy is, al is dit ook dat julle
soos Hy kan swaarkry omdat julle Christene is.
Dink net hoe bly julle gaan wees wanneer Hy weer kom en
almal dan sien hoe groot en belangrik Hy regtig is.”
Opvallend is die woorde: “Christene moet ook swaarkry.”
Wanneer ons swaarkry moet ons onthou dat Jesus ook gely het.
Hy het ook swaar gekry op aarde, en nie net aan die kruis nie.
Dit was erg dat die meeste teenstand wat Hy gekry het uit die
kerk self gekom het! Gereeld het mense Hom ook gespot en
bevraagteken en beledig. Daarom is Christus ook die Een wat
die beste met ons swaarkry kan identifiseer. Neem daarom
jou swaar na Hom toe! Hy sal dit nie altyd wegneem nie,
want ons het dit dikwels nodig om gevorm te word.
In swaarkry raak ons makliker ontslae en gooi die dinge af wat
God nie by ons wil hê nie. Swaarkry is deel van Christen wees.
Of mense dit wil weet of nie.
Dit is nie noodwendig gebrek aan geloof wat jou laat swaarkry nie,
maar jou geloof groei heel dikwels juis deur swaarkry.
Ons leer nie maklik in goeie tye nie. Dit gaan dan dikwels so goed
dat ons nie “ons spoed laat breek” deur dinge wat in ons lewe
moet verander nie! Maar juis dan verloor ons op geestelike terrein
baie spoed!
Ons moet eintlik vir God dankie sê dat Hy só met ons besig raak
dat ons weer nader aan Hom kom!
Dit laat ons groei in geestelike volwassenheid.
Vers 14 sê iets hiervan wanneer die tweede deel van die vers sê:
“Dit is vir julle ‘n bewys dat God se Gees, wat groot en belangrik is,
in julle lewe aan die werk is en dat mense dit raaksien.”
Ontdek met dankbaarheid dat God met jou aan die werk is,
met jou besig is, en jou nie alleen laat nie,
en dat jy sterker uit die swaarkry sal uitkom as jy sy eer soek,
en sy Naam daarin verheerlik!
Maklik? Nee. Noodsaaklik? Ja! Tot eer van God!
En tot groei na die beeld van Jesus!
Ernest