Ons besef dit nie, of leef nie doelbewus daaruit nie,
dat al ons hulp van die Here af kom.
Psalm 121:1-2: “Ek kyk op na die berge:
Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
My hulp kom van die Here wat hemel en aarde
gemaak het.”
Eers as daar berge voor ons lê wat ons moet
oorsteek in hierdie lewe, eers dan besef ons,
dikwels eers dan, dat ons hulp van die Here af kom.
Dan besef ons by ‘n ernstige siekbed dat ook die
dokters en verpleegsters van die Here af kom.
Selfs die oom wat die asemhaling-masjiene van
die intensiewe eenheid diens, kom van die Here af.
Ook die tannie wat die vloer mop en skoon
en kiemvry hou, en die mense wat die lakens ruil,
almal, kom van die Here af.
En wanneer die mediese personeel by die einde van
húlle hulp kom, stap God aan met sy hulp aan ons,
selfs deur doodskaduwee. Vertrou daarop!
Vertrou God onvoorwaardelik daarvoor!

Petrus sê “as ‘n mens al dié dinge in gedagte hou,
moet die mense wat swaarkry omdat dit deel van
God se plan met hulle is, Hom heeltemal vertrou
met wat in hulle lewe gebeur. God het hulle immers
gemaak en sal hulle nie in die steek laat nie.” 1 Pet.4:19.

Ons hoor partykeer “when all else fails, trust God”.
Ons moet God in alle omstandighede God vertrou,
en nie net as “all else fails” nie.
Maar wanneer alles hier om ons inmekaar getuimel het,
en daar geen hoop meer is nie, hou veral dan bewustelik
vas aan God!
Plaas al jou bekommernisse en probeerslae in God se
hande en vertrou Hom onvoorwaardelik met jou lewe,
en dit wat moet gebeur. Berus by die feit,
hoe moeilik dit ookal is, dat God met jou op pad is.

God het ons gemaak en weet waar ons grense is.
God sal jou nooit oor jou menslik moontlike grense druk nie.
Hy weet tot waar Hy ons moet en kan neem om sy
goddelike doel met ons te bereik. God het ons immers
gemaak en sal ons nie in die steek laat nie, sê 1 Pet. 4:19.
God weet ook wat in jou aangaan. Jou liggaam, jou hart,
jou emosie, jou gedagtes...alles!
Al jou hulp en krag kom van Hom af. Altyd en oral.

Ernest