Op skool het ons altyd gesê: “Daardie ou is lekker wintie!”
Petrus sê ons moet tevrede met onsself wees,
sonder om windmakerig te wees.
Ons moet eerder ander mense in ons visier kry
en met liefde en deernis, met omgee, hulle dien en help.
Wanneer Petrus hierdie woorde skryf, dan het hy sy oog
op die kerkleiers en jongmense! Dit is interessant dat
Petrus vir albei die groepe sê dat hulle nie te veel van
hulleself moet dink nie. Hy weet goed dat ons self ons
eie grootste vyand is. Ons is maklik op onsself gefokus.
Ons trek weg met die idee: Wat kan ek hieruit kry?
Ons staan min terug en dink eers aan die ander,
voordat ons aan onsself dink.
Ons praat maklik oor onsself, ons kinders,
ons en hulle prestasies, asof alles óns is, en ons stories
is altyd beter as ‘n ander ou se stories. Oor wat ookal.
Ons moet ‘n slag van buite na onsself probeer kyk.
Hoe ervaar ander ons? Besef ons alles gaan oor onsself,
alles wat ons doen en praat. Is dit wat God wil hê?
Is dit wat die mense rondom my nodig het?
Is dit regtig hoe ek wil wees?
1 Petrus 5:5 sê: “...Julle moet mekaar help waar hulp
nodig is sonder om te vra wat dit julle gaan kos.
Moenie te veel van julleself dink nie, maar ken liewer
julle plek. Daar staan mos geskryf: “God is nié aan die
kant van mense wat te veel van hulleself dink nie;
Hy is goed vir mense wat tevrede met hulleself is
sonder om windmakerig te wees.”
Wanneer die “eie ék” op die voorgrond is,
saai dit meestal verwoesting. Die vraag is:
hoe kry ek die “eie ek” op die agtergrond?
Petrus is baie prakties hieroor. Hy stel voor dat ons
ander mense help! Dat ons op ander moet fokus om
hulle te help. En wanneer jy ander help,
doen jy nie eers bestekopname en wonder hoeveel
dit nou van jou gaan vra nie. Jy doen dit net!
Dink jy dalk Jesus het op ‘n punt gaan uitwerk wat
dit gaan kos om aan die kruis te sterf, en onttrek?
Hy het nie homself in die middelpunt gestel nie,
maar die wil van sy Vader in die hemel.
Wanneer ons ontdek wat die Here regtig vir ons
gedoen het sal die fokus begin wegskuif van onsself.
Ons sal eenvoudig ander begin help in hulle nood.
Petrus wil dit beklemtoon. So neem ons Jesus se dade
verder na die mense, soos Hy ons ook opdrag gee.
Kry ander mense en hul nood in jou visier!
As jy daarmee sukkel, doen die volgende, vers 6:
“Plaas julle hele lewe in die hand van God,
in totale afhanklikheid van Hom. Wanneer die
tyd daar is, sal Hy julle ‘n ereplek by Hom gee.
Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer
of wat julle omkrap na God toe,
want Hy self is die een wat vir julle sorg.”
Wanneer jy só leef, sal jy al minder word,
en die Here al meer in jou hele lewe!
Jy besef dat Hy jou ‘n ereplek by Hom gee.
Jy sal nie jouself windmakerig handhaaf nie.
Omdat jy jou lewe doelbewus in God se hand plaas,
sal jy Hom uit dankbaarheid dien. Jy sal ander
mense help, sonder om te vra wat dit jou gaan kos.
Jy sal tevrede wees met jouself,
sonder om windmakerig te wees.
Vertrou Petrus se raad hiervoor!
Ernest