Die duiwel probeer heeltyd om ons geestelike
fondamente te skud. Hy dink as hy eenvoudig
aanhou om ons te versoek, dan sal ons een of
ander tyd opgee en oorgee.
En daar kom dikwels tye wat gelowiges onder
groot druk is en handdoek wil ingooi.
Ons raak moeg vir weerstand bied.
Ons raak moeg van baklei en skop teen die prikkels.
Ons raak moeg van die druk van die wêreld om aan
die wêreld se standaarde en eise te voldoen.
Die belangrike is om te weet dat die duiwel juis dít
weet, en daarom nie opgee om ons te versoek,
te mislei, en ons op die verkeerde pad te wil
neem nie. Die duiwel wil jou skop as jy lê.

Daarom is die raad van 1 Petrus 5:8-9 so belangrik:
“In die geestelike stryd moet julle op en wakker wees.
Julle het ‘n gevaarlike vyand, die duiwel. Hy loop rond
soos ‘n honger leeu wat iemand soek om te verskeur.
As hy julle aanval, moet julle met julle geloof in die Here
terugveg. Moenie toelaat dat hy julle geestelike
fondamente skud nie. Laat dit vir julle ‘n troos wees:
daar is Christene oor die hele wêreld wat as Christene
dieselfde dinge as julle ly omdat hulle dieselfde stryd as
julle stry.”

Onthou; die leeu brul, maar sy tande is aan
die kruis getrek. Hy is oorwin. Die dood se angel is aan
die kruis getrek. Dit beteken egter nie dat ons die skild
van geloof kan laat sak nie – Efesiërs 6:16.
Op die slinksste maniere probeer die leeu steeds om
ons te verskeur. Daarom sê Petrus dat ons op en wakker
moet wees! Ons moet nie moeg word om met alles in
ons weerstand te bied nie.
Ons moet opgeskerp wees oor wie ons teenstander is
en hoe slinks hy optree. Ons moet ‘n fyn aanvoeling hê
vir die stem en die leiding van die Heilige Gees wat ons
nooit in die steek sal laat nie. Die vraag is of ons luister
en gehoorsaam is aan die Gees.

Keer die aanvalle van die duiwel bewustelik af!
Efesiërs 4:27 sê duidelik:
“Moenie die duiwel vatkans gee nie.”
Vers 30: “En moenie die Heilige Gees van God
bedroef nie…”

Ernest