Die lewe is nie altyd maklik nie.
Dinge gebeur wat jou voete onder jou uitruk.
Iemand het gesê as jy jou voetwerk verloor
en jy op jou knieë is moet jy onthou jy is in die
bid-posisie!
Dinge gebeur waarop ons nie antwoorde het nie.
Tog lees ons dan hierdie woorde van Petrus raak
in 1 Petrus 5:10-11: “Hierdie swaarkry as Christene
sal nie meer so lank aanhou nie.
Daarvoor sal God sorg. Dit is immers Hy wat soveel
goeie geskenke vir ons gee sonder dat ons dit verdien.
Hy het Christus Jesus gestuur, deur Wie God ons ook
uitnooi om vir altyd sy eregaste te wees.
Al ly julle nou ‘n rukkie, sal God self vir julle julle ereplek
by Hom gee. Hy sal vir julle al die krag gee wat julle
nodig het, sodat niks en niemand dan meer iets aan julle
sal kan doen nie. Hy kan dit doen, want al die krag
behoort aan Hom, nou en vir altyd.
Daaraan hoef niemand eers te twyfel nie.”
Ongelukkig gee dit nie antwoorde op die waarom vrae nie.
Maar dit gee eintlik baie meer as dit! Dit gee wat ons
regtig nodig het! Dit gee ons ‘n kyk in God se hart en
wat God doen! Die mense vir wie Petrus hier skryf het
baie swaar gekry. Hulle lewe was daagliks in gevaar en
hulle is doodgemaak.
Dit sou ook binnekort met Petrus self gebeur het.
Seer en swaar was deel van hulle lewe. Vandag is dit nog so.
Baie mense kry baie swaar. Maar ons staan nie alleen nie.
Dit is nie asof God op ‘n afstand staan en kyk wat gebeur nie.
God is deurlopend by ons. Hy gee sy krag in oorgawe.
Hy gee sy beloftes. Ons het nie al die antwoorde nie,
en sal ook nie al die antwoorde op aarde kry nie.
Dit moet vir ons belangrik wees om te weet dat God weet,
en dat ons in sy hand is. Deur dit alles leer ons meer van God,
en meer van ons. Wanneer ons naby aan Hom gaan leef,
kry ons alles wat ons nodig het vir alles wat ons bedreig.
Ons het krag om te kan aanstap. Ons het vrede wat
alle verstand te bowe gaan. Ons het dankbaarheid wat
diep gewortel is in Jesus Christus ons Verlosser!
Ons het vreugde wat blywend is in die Here...ten spyte van.
Die waarom vrae sal bly, maar ons moet naby aan God bly!
Ernest