Ons kan maklik perspektief verloor wanneer
ons deur swaar tye gaan.
Dan kan ons hart kliphard raak as gevolg van
die dinge wat in ons lewe gebeur.
Juis in hierdie tye moet ons perspektief behou
en God se genade met albei hande vasgryp.

Petrus stel dit so aan die mense wat so
swaarkry vir wie hy skryf in 1 Petrus 5:12:
“My doel met die brief is om julle moed in te praat
deur julle weereens aan alles te herinner wat ons
God vir ons gee sonder dat ons dit verdien.
Dit is ware genade. Gryp dit met albei hande vas en
moet dit nooit los nie.”
Kan ons ooit hierdie boodskap te veel hoor?!
God kom gee uit genade vir ons nuwe lewe!
‘n Lewe waarin jy vry kan wees en vir geen swaard
bang hoef te wees wat oor jou kop hang nie.
Christene moet dit besef en ook as ‘n
geloofs-gemeenskap mekaar hierin bemoedig
en dra in moeilike tye.

Daarom skryf Petrus verder in vers 14:
“Vou mekaar toe in Christelike liefde.”
Soos ‘n warm kombers in die ysige winter.
Wanneer ek besef hoe groot die genade is
wat ek ontvang, kan ek nie anders nie as om
perspektief te kry in die moeilikste omstandighede
en te besef dat God my vashou en nooit ooit in die
steek sal laat nie.
Petrus bid dan as’t ware verder vir hulle in vers 14:
“Mag God aan julle groot rustigheid en vrede hier
diep in julle binneste gee, aan almal van julle wat
Christene is.”

Ernest