Wanneer Jesus in Johannes 6 wegbeweeg van die
skare wat Hom met geweld tot koning wou verklaar,
dan gaan soek Hy in stilte sy Vader op.
Later, daardie selfde aand vertrek die dissipels
sonder Hom terug na Kapernaum per boot.

Toe raak die see van Galilea baie rof. ‘n Groot storm
het opgesteek en na ‘n lang gespartel en geroei
sien die dissipels skielik vir Jesus bo-op die water!
Hulle het bang geword. Dit is die laaste ding wat jy
verwag op ‘n stormsee waar jy in ‘n boot spartel
tussen lewe en dood.

Toe sê Jesus vir sy dissipels in Johannes 6:20:
“Dit is Ek; moenie bang wees nie.”
Ons kan ook vertaal: “Ek is! Moenie bang wees nie.”
Dit is soos die openbarings taal wat God gebruik het
toe Hy met Moses by die brandende bos gepraat het:
“Ek is.”

In die middel van die storm openbaar Jesus sy Godheid.
Dit is die Here self wat nou midde in die dissipels se
krisis aanwesig is! Hy self is op pad na sy dissipels
in hul klein skuitjie op die stormsee.
Hy klim selfs aan boord! Nie eers die stormwinde van
Galilea kom tussen Jesus en sy dissipels nie.

Vandag nog is dit so. In die middel van die storm in ons
lewe klim Jesus aan boord. Vandag nog heers Hy as Here
oor die storms van die lewe in jou persoonlike lewe.
En hy daag betyds op in elke krisis. Hy is daar. Weet dit!

Ernest