Die wêreld waarin ons leef is hoogs kompeterend.
Almal kompeteer met almal om alles...
Mense word gedurig met mekaar vergelyk,
of vergelyk hulself met ander. Tot in godsdiens!
Is hierdie prediker beter as daardie een?
Is hierdie kerk meer dinamies as daardie een?
Wanneer die einste skare wat agter Jesus aanloop
in Johannes 6, nadat Hy brood gemaak het vir hulle,
besef dat Hy dit nie weer gaan doen nie,
dan raak hulle skielik hoogs kompeterend en
vergelyk hulle Hom met Moses.
Dan daag hulle Jesus uit om Moses se optrede in
die woestyn te troef!
Dáár, reken hulle, het Moses gesorg dat die Israeliete
elke dag manna het om te eet.
Nou verwag hulle minstens dieselfde “prestasie” van
Jesus. Hy moet wys dat Hy op dieselfde vlak as Moses is,
of selfs beter, anders stel hulle nie belang om Hom
verder te volg nie!
Jesus weier om in enige kompetisie betrokke te raak.
Die rede is in elk geval voor die hand liggend:
Moses is nie op dieselfde vlak as Jesus nie!
Dit was in elk geval ook nie Moses wat manna aan die
Israeliete voorsien het nie, maar God self!
Nou het God vir Jesus as ware ewige kos na die wêreld
gestuur. Johannes 6:29: “Jesus antwoord hulle:
“Wat God van julle verlang,
is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”
Jesus kompeteer met niemand om die wêreld se aandag nie.
Jesus kompeteer ook met niemand of niks vir jou aandag nie!
Hy laat Hom deur niemand afdwing of afdreig, of deur
niemand manipuleer nie. Hy is die Here God self!
Hy kom op sy eie terme na ons toe.
Kry duidelikheid hieroor in jou lewe!
Hy roep ons op en gee ons opdrag om Hom eksklusief as
Here te dien! Hy bepaal self die voorwaardes van navolging.
Hy sê twee lewensbelangrike woorde! “Volg My!”
Doen dit!
Ernest