Behalwe dat Jesus met geeneen kompeteer nie,
en weier om nog brood te maak, sê Hy nou nog
ontstellende woorde ook in Johannes 6:54:
“Wie my liggaam eet en my bloed drink,
het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste
dag uit die dood laat opstaan.”

Hierdie woorde van Jesus is baie ongemaklik
vir die skare. Tegnies is dit teenstrydig met die
wet van Israel wat die drink van bloed verbied.
Geen wonder nie dat die skare nou ernstig
aanstoot neem. Dit is te erg vir woorde!
Nou stel hulle nie meer in Jesus belang nie.
As Jesus maar net gewone brood wil maak,
dan is alles reg, maar meer as wat hulle wil hê
bederf hulle eetlus. Daarom dat Jesus ‘n paar keer
vir hulle sê dit is nie maklik om Hom te volg nie.

Nou raak dinge ongemaklik, selfs met sommige
van die dissipels. Gister was alles nog wonderlik
toe derduisende mense aan Jesus se voete was.
Vyf duisend mans, en nog vroue en kinders.
Almal gevoed! Nou bederf Jesus alles deur nie
vandag weer brood te wil maak nie. Hy kies om
nie die nuwe Moses te wees wat daagliks vir hulle
brood sal gee nie. Genoeg is genoeg,
besluit ‘n klomp van die dissipels.
“Wat U nou sê, is darem te erg.”

Maar Jesus stel nie belang in ‘n groot skare nie.
Hy wil eerder deur ‘n baie kleiner groepie gevolg
word vir die regte redes! Daarom verlaat
derduisende mense Hom binne vier en twintig uur!
Ook van die aanvanklike navolgers verlaat Hom nou.

Dit bring die vraag by ons:
Om watter rede volg jy regtig vir Jesus?
Wat is die kwaliteit van jou navolging?
Volg jy Hom vir wat Hy vir jou kan doen?
Volg jy Hom net as dit maklik en lekker is?
Of volg jy Hom enduit? Wanneer dit regtig taai raak?

Ernest