Die Here is hiér! Hou daarom op kla en lééf!
Filippense 4:4-5 sê hierdie baie belangrike woorde:
“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!
Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.”

Die Here is hier waar ons leef! Hou op kla en leef
saam met Hom. Hy is elke oomblik by ons.
Ons staan in die oggend op in sy teenwoordigheid,
en gaan slaap in sy teenwoordigheid. Hy sluimer nie
in nie en Hy slaap nie – Psalm 121.
Hoekom leef ons so klaende in sy teenwoordigheid?

Dit is ontstellend hoe al klaende ons deur die lewe gaan.
Dit maak dat ons al hoe minder verantwoordelikheid
neem in die Here se Naam! Ons toon al hoe minder
empatie met mense. Ons raak al hoe meer selfsugtig.
Ons begin al hoe meer saamleef met die lae
morele standaard en gebrek aan verantwoordelikheid.
“Almal doen dit, so ek doen dit ook...”
Ons moet ophou kla en lewe soos kinders van die Here.
Ons moet weet die Here is hiér en ons is saam met Hóm!
Moraliteit en verantwoordelikheid gaan ook nie in
ons land van bo af suurdeeg nie, maar van onder af,
van ons af wat as kinders van die Here moet leef.
Ons is die suurdeeg en sout en lig.

Ons moet ophou kla in ons land en begin leef soos
kinders van die Here. Die Here is hiér,
en ons is saam met Hom! Kry greep op die lewe wat
die Here wil hê jy moet lewe, daar waar jy is!
In jou huis, jou kantoor, jou gesprekke, jou hart en siel.

5 Belangrike waarhede kom uit Filippense 4:4-7:
1.)Wees bly in jou lewenswerklikheid – vers 4 sê “wees bly”.
Dit is ‘n lewens-blydskap wat jy “in die Here het”.
Diepliggend. Ten spyte van omstandighede.
Dit laat jou ophou kla.
2.) Jy begin meer inskiklik leef teenoor alle mense – vers 5.
Jy leef meer bedagsaam. Jy leef alleen uit die Here se genade,
en jy deel dit nou met ander mense.
Die Here kom na hulle toe, deur jou!
3.) Jy is nie meer besorgd en bekommerd nie – vers 6.
Die probleem is dat jou kommer jou angstig maak. Dat dit
beheer oorneem in jou lewe asof die Here nie hier is nie!
Kommer, angs en vrees kom nie van die Here af nie!
Dit dreineer jou krag, visie en vertroue op die Here.
4.) daarom moet ons ophou kla en bid! – vers 6.
Hoeveel bid jy vir dit waaroor jy so baie kla? Wanneer jy
weet die Here is hier, dan praat jy met Hom oor alles!
Met gebed laat jy jou kommer los.
5.) dit laat jou leef in die vrede van die Here – vers 7.
Die vrede van God hou oor jou hart en gedagtes die wag
in Christus Jesus! Dit laat jou ophou kla!

Wanneer ons so saam met die Here leef, wat hiér is,
altyd naby is, in ons is deur die Gees,
sal ons ophou kla, en lééf!

Ernest