God is vir altyd goed. Sy kinders weet dit.
Ons bely dit en leef dit.
Wanneer Salomo die tempel voltooi het,
en die ark van Sion soontoe verskuif is,
sing die tempel sangers spesifiek hieroor.
2 Kronieke 5:13: “Presies gelyk, soos een man,
het die trompetblasers en die sangers die lof
en dank aan die Here laat weerklink.
Die klank van trompette, simbale,
allerhande instrumente en die loflied ter ere
van die Here het opgeklink:
“Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen
einde nie.” Op daardie oomblik het ‘n wolk die
huis van die Here gevul.”

Hulle lof was kragtig en helder, dat die Here
goed is en dat sy troue liefde vir altyd duur.
Net dit? Ja, juis net dit! Dit is ‘n waarheid,
kort en kragtig, om oor en oor gesing te word!
Om te bely en te leef. Die Here se goedheid in
ons lewe ken geen einde nie. Begin om dit
daagliks raak te leef en hou op kla oor allerhande
dinge wat nie in die kern van jou lewe ‘n verskil
behoort te maak aan jou lewensvreugde nie.
Elkeen wat die Here aanroep en dien as Redder
en Here van jou lewe, is op hoogte hiermee.
Dit is opregte gelowiges se lewens-musiek.

Ons het nodig om weer en weer herinner te word
aan die goedheid van die Here. Ons vergeet dit so
maklik. Ons dink so maklik net aan ons eie
omstandighede wat die Here moet “uitsorteer”.
Ons gebede verander in geestelike krisisbestuur.
Ons moet verby ons eie omstandighede kyk en
God se heerlikheid en goedheid raaksien.
Dan moet ons lewe uitbreek in lof. Selfs al is dit
kort en kragtig soos in 2 Kronieke 5:13:
“Want Hy is goed,
aan Sy liefde is daar geen einde nie.”
Twee sinne wat die lewe omkeer,
tot ‘n lewe van lof aan God!

Ernest