In 1 Konings 3 lees ons van ‘n droom wat
koning Salomo gehad het net nadat hy by
koning Dawid oorgeneem het.
Die Here verskyn aan hom en vra aan hom
wat hy wil hê! Die Here sê dat Hy vir hom sou
gee wat hy daardie nag vra.
Dit is die kans van ‘n leeftyd!
Wat sou mense nie alles vra by so ‘n kans nie!
Dink net: God self gee vir jou een wens en die
waarborg dat Hy dit alles waar sal maak.
Toe kies Salomo wysheid! God se soort wysheid!
1 Konings 3:9 sê: “Gee my die gehoorsaamheid
aan U dat ek U volk reg sal regeer en in alles
insig sal hê,...” Net dit!
Salomo vra nie geld, of ‘n lang lewe,
rykdom of wat anders ookal nie.
Min mense sou seker kies wat Salomo kies.
Insig en gehoorsaamheid.
Die meeste van ons sou selfsugtige keuses uitoefen.
God was so bly oor Salomo se keuse dat Hy vir hom
die wysheid gegee het wat niemand voor of na hom
nog gehad het nie. Ons praat vandag nog van Salomo
se wysheid. En saam met dit gee die Here aan Salomo
baie dinge waarvoor hy nie eers gevra het nie.
Wanneer ons in nederigheid en afhanklikheid kies om
God te verheerlik met ons hele lewe,
dan oorweldig God ons met sy guns en goedheid.
Kies ook soos Salomo. Gehoorsaamheid aan die Here.
Insig. En die Here se soort wysheid. Dit is ware lewe.
Ernest