Die lewe kan regtig hard raak. Die meeste van ons
spring die regtige hardheid van die lewe vry.
Die meeste van ons lewe in relatiewe gemak en weelde.
In 1 Konings 17 lees ons van ‘n weduwee wat besig is
om vir haar en haar kind hul laaste maaltyd voor te berei.

Hoe baie mense sit nie daagliks hul laaste maaltyd op
die tafel nie... hul weet nie eers waar vanaand se kos
vandaan gaan kom nie, wat nog die van môre en oormôre.
Terminale armoede. Al wat die weduwee oorgehad het
is ‘n hand vol meel en bietjie olie.
Daarna? Sterf van die honger?

Maar so dikwels misreken mense hulle met God.
Die Here se profeet Elia is op die toneel. En wat doen hy?
Hy vra die weduwee om vir hom brood te gee!
Sy was seker stomgeslaan. Sy moet haar laaste ete met
‘n vreemdeling deel. Sy deel haar tragiese situasie met
die profeet. Wat sê hy?
Vers 13: “moenie bekommerd wees nie...” Net dit!
Maar hy sê dit met oortuiging en geestelike krag.
Sy het seker gedink dit is maklike en goedkoop raad.

Maar dan sê die profeet nog iets:
“...maar maak eers vir my ‘n roosterkoek en bring dit hier,
daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg.”
Wanneer die weduwee seker nie kan glo wat van haar
gevra word nie, gaan Elia nog verder en sê die Here sou
sorg dat haar meel en olie nie opraak nie,
totdat die droogte in die land gebreek is!

“Moenie bekommerd wees nie.”
Vrees en kommer is dikwels op die tafel in ons land.
Baie dinge in Suid Afrika maak ons bang.
Misdaad. Werkloosheid. Korrupsie. Swak ekonomie.
Wat hou die toekoms vir ons in?
Ons verloor soos die weduwee van Sarfat al ons hoop,
en daar word net meer en meer van ons gevra!
Ons beleef dat “ons laaste maaltyd op hande is”.
Maar God se uitkoms is ook in ons midde.
Soos die profeet by die weduwee.
Vertrou God deurgaans. Ook vir wonderwerke.
Moenie bekommerd wees nie.

Ernest