In 2 Konings 5 lees ons van ‘n generaal wat
ernstig siek is. Dit was ‘n vyandige generaal.
Melaatsheid het hom getref. Sy naam was Naäman.
Hy was die aanvoerder van die Aramese leër.
In sy kombuis het ‘n jong dogtertjie diens gedoen.
Sy was ‘n gevangene wat uit Israel weggevoer is.
Toe hoor sy ook van die generaal se melaatsheid.
Dadelik het sy na Naäman se vrou gegaan en daardie
een woord op die regte tyd gesê waarvoor sy in die
Bybel en tot vandag toe nog bekend geraak het.
2 Konings 5:3: “As Meneer net by die profeet in
Samaria kan uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy
melaatsheid gesond maak.”
Die generaal moes na die man van God toe gaan.
Nie eens hierdie dogtertjie se eie harde omstandighede
het gemaak dat sy van God en sy profeet, Elisa, in haar
geboorteland vergeet het nie. Die generaal het gegaan.
Die uiteinde is dat Naäman gesond geraak het.
Die meer treffende is egter sy getuienis in vers 15:
“Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie,
behalwe in Israel.”
Dit alles volg op die regte woord van die dogtertjie,
daar uit die kombuis, op die regte tyd.
Wat kan jou regte woord op die regte tyd in die Here
se diens en in die Here se Naam nie alles bereik nie!
Gryp die geleenthede aan wat oor jou pad kom.
Hierdie dogtertjie het dit gedoen. Daar in die kombuis,
was sy ‘n padwyser. Dit was nie nodig vir ‘n preek of
‘n teologiese redenasie nie.
Net een sin was ‘n padaanwyser na God toe.
Met so min wat jy kan doen, in jou oë, doen God so
baie in hierdie wêreld. Die effek is onberekenbaar
groot as God se Gees ons min woorde neem en vul
met sy krag!
Dan vind selfs magtige mense, soos hierdie generaal,
hulle pad na God toe deur die woorde van ‘n klein
dogtertjie!
Doen wat jy kan, met wat jy het, daar waar jy is.
Ernest