Hiskia het groot hervorming gebring toe hy
koning geword het. 2 Konings 18:5-6 skryf
sterk woorde oor Hiskia:
“Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou.
Nie een van al die konings van Juda voor of na
Hiskia was soos hy nie. Hy was getrou aan die Here
en het nie van Hom af weggedraai nie. Hiskia was
gehoorsaam aan die gebooie wat die Here aan
Moses gegee het.”
Hiskia was een van die grootste en mees toegewyde
konings wat Juda opgelewer het. Hy het die Here
so toegewyd gedien dat dit ‘n verskil gemaak het
tot op grondvlak. Sy geloof was nie net lippetaal nie.
Sy woorde het dade geword wat regtig in die
gewone lewe die mense van sy volk geraak het,
tot God se eer.
Hiskia het verlore grond teruggewen vir die Here.
Hy het ‘n einde gebring aan die nimmereindigende
afgodediens van sy tyd. Heidense praktyke is gestaak.
Dit was ‘n tyd van groot hervorming vir sy volk,
terug na die weë van die Here. God se Woord is weer
op straat gehoor. Die Here se goedheid was weer
sigbaar en voelbaar.
Ons elkeen het net een lewe om ‘n verskil te maak.
Ons lewe is die geleentheid om reg te doen vir die Here.
Dikwels is dit uitdagend. Ons moet, soos Hiskia, grond
terugwen vir die Here. Ons moet dinge omswaai wat
verkeerd geloop het. Stroomop swem in die oë van die
samelewing. Ons moet winde van verandering laat waai.
Ons moet inderdaad verlore grond herwin,
met die krag van die Here, en in die Here se Naam.
Ons moet met integriteit optree, en dit vestig.
Oral. Altyd.
Ernest