Dit is insiggewend hoeveel keer ons in die Bybel
lees van konings in Israel en Juda wat óf vir die
Here geleef het, óf totaal hul rug op die Here
gedraai het.
So het Josia koning geword in ‘n donker tyd in
die geskiedenis van Juda. Sy oupa, Manassa,
was een van die slegste konings wat ooit oor
God se volk regeer het.
In 2 Konings 21 lees ons van sy chaos wat vir
55 jaar geduur het! Sy seun Amon, het nie
veel beter gevaar nie, maar hy het net vir
2 jaar regeer en skade aangerig.
Na hom word die agtjarige Josia koning!
Merkwaardig. Net 8 jaar oud!
En hy swaai die hele gemors om. Terug na God!
In die 31 jaar van sy regering het dinge drasties
verander. Die groot draaipunt was toe die
hoëpriester Gilkija weer die wetboek van God
in die tempel ontdek het! Dit was waarskynlik
die boek Deuteronomium of gedeeltes daarvan.
Toe die koning hiervan hoor, het hy reuse
godsdienstige hervormings oor die hele land
van stapel gestuur.
Net soos Hiskia, het Josia ook verlore grondgebied
vir God teruggewen met sy optrede ter wille van
die Here! 2 Konings 23 vertel daarvan.
Dit was weereens ‘n wonderlike tyd van vernuwing
in die Here se Naam! Die wet van God het weer die
ereplek gekry. En ware feesvreugde is weer in Israel
ervaar. So is in die 18e jaar van sy regering een van
die grootste Paasfeeste ooit in die geskiedenis van
Israel gehou. Feesvreugde was weer in die mense
se harte! God se reddingsdade is besing soos selde
tevore. Baie mense het tot redding gekom.
Met dapperheid en moed het hierdie koning
opgestaan teen afgodery en korrupsie en
goddeloosheid. Tree vir tree. Dag vir dag.
Situasie vir situasie. Keuse vir keuse.
So het verandering gekom.
So kan ons ook verandering bring.
Die Here doen dit deur ons wat in ons eie lewe
en omstandighede met integriteit optree.
God doen groot dinge deur jou wat gehoorsaam is.
Al voel dit selfs vir jou of jy alleen staan!
Leef lewens-veranderend,
as verteenwoordiger van die Here!
Ernest