Wanneer God die fokus van jou lewe word,
is dit baie meer as net gedragsverandering.
Daar is niks fout met gedragsverandering opsigself nie.
Selfhelp-programme, formele gedragsterapie en
rehabilitasie help alles met die afleer van destruktiewe
gedrag en gewoontes, en met die aanleer van nuwe
gedrag en gewoontes. Daar is inderdaad niks fout
daarmee nie. Dit is reg dat mense wie se lewens
uitmekaar val se gedrag aangepas word met alle
moontlike hulp, en dat hulle ‘n beter lewe begin leef.
Maar die evangelie van Jesus Christus is nié sinoniem
met gedragsverandering nie. Dit is baie meer!
Voor ons verkeerd dink, moet ons dit reg hoor.
Natuurlik leef navolgers van Jesus anders.
Maar hierdie nuwe leefstyl spruit voort uit ‘n
persoonlike verhouding met die Here Jesus self!
Dit word in ons aangevuur deur die Heilige Gees!
Ons is dus nie met gedragsverandering besig wat
gebaseer word op skuldgevoelens, vrees of
moontlike belonings nie.
Die fokus van die evangelie val op ons nuwe
verhouding met die Here Jesus. Anders gesê,
ons is nuwe mense! Ons is nou deel van God se
nuwe aardse familie. God verklaar ons tot heiliges.
Hy verander ons status van sondaars na begenadigdes.
Die dood het geen houvas meer op ons nie.
Ons is volledig herskep om nou tot eer van God te leef.
Ons kan en moet Hom nou verheerlik. Ons leef vir Hom,
in alles! In ons lag, sing, speel, werk, ontspan, slaap,
alles hoe ons dink en leef! Ons behoort aan Hom,
en fokus op Hom en vergeet van onsself!
Ons aanbid Hom. Dit is totaal anders en nuut!
Dit is nie net ons gedrag wat verander het nie.
Ons is totaal nuwe mense! 2 Kor. 5:17-18:
“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Dit alles is die werk van God.”
Ernest