Romeine 16:19 plaas klem daarop dat ons
op God moet fokus, eerder as op die sonde,
en God-kenners moet wees eerder as sonde-kenners.
Vers 19 sê: “Almal het gehoor van julle gehoorsaamheid
aan die evangelie. Ek is baie bly oor julle, en ek sou
graag wil sien dat julle alles weet van die goeie en niks
wil weet van die slegte dinge nie.”
Hierdie woorde van Paulus word baie dikwels omgeruil.
Daar word baie maklik meer klem gelê op al die
verkeerde in die wêreld, in die kerk, in ons en ander mense,
as wat daar klem gelê word op die goeie en wat reg is
voor God. Godsdienstiges is ongelukkig heel dikwels meer
gefokus op sonde as op God, juis in die poging om vir God
te leef.

Ons moet meer God-kenners en God-dieners wees,
as sonde-kenners. Mense raak as’t ware sonde-eksperts.
Ons roeping is egter om God in ons lewe en die lewe van
ons medemens raak te sien! Ons fokus so maklik op die
verkeerde, die sonde in mense, in plaas van op die
Here in mense. Ons raak so behep daarmee om
“die sonde te los” dat ons daarop fokus, in plaas van op God.

Dink mooi hieroor: Wanneer ons ons fokus doelbewus na God
toe verskuif, dan lei Hý ons deur die Heilige Gees om die
vrug van die Gees te dra, eerder as om die werke
van die vlees te doen. Ons leef dan deur die Gees,
en die Gees bepaal dan ook ons gedrag.
Galasiërs 5:25: “Ons lewe deur die Gees;
laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”
Iemand het gesê ons kan nie “die sonde los nie”,
maar “die sonde los” ons wanneer ons onder beheer van
die Heilige Gees leef. Onder beheer van die Heilige Gees,
fokus ons op God!

Die Heilige Gees is die Een wat ons rig op God.
Hy maak ons nie blind vir ons oortredings nie,
maar lei ons aktief om dit te laat staan. Hy lei ons om op
Christus te fokus by wie se voete ons ons sonde kan neersit.
Die Heilige Gees bring ons by ‘n lewe van verwondering
voor God en sy verlossing vir ons in Christus.
Hierdie verwondering is die nuwe lewe in ons en die
vuur in ons om Hom te dien en vir Hom te leef,
om op Hom te fokus!
Dit is die Heilige Gees wat ons lei tot nuwe gehoorsaamheid,
en ‘n weg-leef van die verkeerde dinge af.
Die Heilige Gees fokus ons aandag waar dit hoort:
Op God!

Ernest