Ons almal kan van tyd tot tyd sukkel met konsentrasie.
Ons gedagtes kan dikwels in baie rigtings rondhardloop
omdat ons erg besig is, of bang is, of onseker is.
Baie dinge kan ook ons aandag aflei en ons konsentrasie
verbreek, veral as ons studeer, of nuwe vaardighede aanleer.

Ook wat ons verhouding met God betref kort ons
geestelike konsentrasie-vermoë. Ons het dit baie nodig om
die Here reg en duidelik te hoor en te gehoorsaam.
Ons het dit ook nodig om die Here raak te sien in ons hele lewe.
Daarom moet ons let op dinge in ons lewe wat ons geestelike
konsentrasie-vermoë laat afneem, soos vrees. Kyk wat het met
Petrus gebeur toe hy op die water geloop het na Jesus toe,
en bang geword het. Die vlugtende Israeliete in die woestyn se
geloof het ook gou “soek geraak” toe hulle die Farao se
soldate op hulle hakke sien.

“Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandiges
mense nie, maar soos verstandiges.” – Efesiërs 5:15.
Hierdie aanmoediging om versigtig te lewe, en verstandig,
het te doen met geestelike konsentrasie.
Wat moet ons doen wanneer ons geestelike konsentrasie
verloor?
Dan moet ons bid. Gebed is lewens noodsaaklik.
Die Woord sê: waak en bid! Ons moet bid dat die Heilige Gees
ons kleingeloof te hulp snel. Ons moet bid dat die Gees ons
help om opnuut te fokus op die Here wat teenwoordig is!
Alles verander dan nie noodwendig in ‘n oogwink nie.
Maar die antwoord begin by hernude konsentrasie
en fokus wat die Heilige Gees aan ons gee daarop,
naamlik dat God by ons is!
Fokus in gebed op God!
Plaas al jou hoop op Hom!

Ernest