Een van die belangrike geestelike dissiplines wat
ons moet aanleer, is om beter te konsentreer op
die Here se wil en die Here se dinge.
Ons moet volhoubaar fokus op wat die Here wil hê.
Geestelike konsentrasie vra ‘n meer doelbewuste
verbintenis, “commitment”, tot daaglikse lewe
saam met die Here. Om doelbewus vir die Here te leef
kom nie maar vanself nie. Ons moet doelbewus onder
leiding van die Heilige Gees lewe, wat ons lei in die wil
van die Here. Paulus sê iets hiervan met Efesiërs 5:10:
“Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is.”
Halfhartigheid gaan ons nie geestelik laat groei op die pad
van die Here nie. Dan kan letterlik enige iets in hierdie
wêreld ons aandag en lojaliteit aan die Here verskuif.
Hieroor sê Paulus in 2 Timoteus 2:4: “’n Soldaat in aktiewe
diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel,
bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie.”
Geestelike konsentrasie hou ook verband met ons eie
entoesiasme oor ons geloof. Ons eie entoesiasme onder
leiding van die Heilige Gees lig ons hart na God.
Entoesiasme in die Here het te doen met diep emosionele
gevoelens van vreugde in die Here, aanvaarding deur die Here,
en geliefdheid in God se teenwoordigheid. Sonder dit is ons
geestelike konsentrasie laag en is ons maklik aandag
afleibaar van die Here se wil af.
Entoesiasme maak dat ons nie kan wag om die Here se
Woord te lees nie, te bid nie, goed te doen aan alle mense nie,
Hom te aanbid en te prys nie...
om net met oorgawe vir Hom te lééf!
Geestelike entoesiasme is aansteeklik! Dit steek vure aan wat
brand vir die Here! Dit inspireer nie net onsself nie,
maar ook ander mense word aangespoor tot nuwe geestelike
hoogtes. So maak die Heilige Gees ons magneties en
geestelik aantreklik. Ons trek mense na die Here toe deur ons
lewe vir Hom. Dit spoor aan tot vreugde in die Here.
So sal ons met ons lewe die Here eer en ander inspireer.
Ons moet nie net besig wees met geestelike
losmaak oefeninge nie, maar die wedloop vir
die Here hardloop in hierdie wêreld!
Gefokus op die eindstreep!
Ernest