Ons kan geestelike vaardighede aanleer om ons fokus op
die Here te behou.
Ons kan byvoorbeeld aanleer hoe om die Bybel reg te lees.
Dit gaan regtig baie help met ons geloofsvorming.
Studiegidse en geestelike boeke kan ook hiermee help.
Ons lees dikwels die Bybel gewoon lukraak.
‘n Mooi teks hier, en ‘n paar geliefde verse daar.
Ons lees nie met volgehoue konsentrasie ‘n hoofstuk
of Bybel-boek nie. Dan verstaan ons dikwels nie die konteks
of wat die Here se bedoeling vir ons uit die gedeelte is nie.
Dieselfde geld ook gebed. Dit help nie om net op skietgebede
te probeer leef vir die Here nie. Ons sal nie so groei in ons
intieme verhouding met die Here nie. Ons weet hoe ons voel
as ‘n “vriend” ons net gebruik as hy ons nodig het.
Ons kan dit dan mos nie doen met die Here nie!
Ons moet bid met die doel om te fokus op God se wil,
God se eer, God se koninkryk. Ons moet bid om self minder te
word in ons gebede sodat die Here alles kan word in ons lewe.
So sal ons aandag al hoe meer op God gevestig wees
in ons hele lewe. Ons sal allereers die koninkryk van God soek.
Selfs in ons normale dagtake sal ons verteenwoordigers
van die Here wees, volgens Genesis 1:27, wat soos sout en lig
en suurdeeg ‘n verskil maak! Met die aanleer van geestelike
vaardighede is ons aandag al hoe meer gevestig op die Here!
Die Heilige Gees doen dit dan in ons vir ons!
Dit is ook wat die Psalm-skrywers onder andere bedoel met
“wag op die Here”. Psalm 27:14 vertaal in die 1953 vertaling:
“Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees!
Ja, wag op die Here!”
Ook Jesaja 40:31: “...maar die wat op die Here wag,
kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende;
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle wandel en word nie mat nie”.
In die nuwe vertalings word hierdie “wag” met “vertroue”
en “hoop” vertaal, wat inderdaad ook korrek is.
Dit is nie ‘n passiewe wag nie, maar aktiewe wag op die Here.
In Engels is daar ‘n goeie woord wat hierdie aktiewe
wag op die Here beskryf, naamlik “vigilant”.
Belangrik: Om “vigilant” te wees is om in ‘n geestelike
ingesteldheid van gereedheid en ontvanklikheid
vir die lewende God te wees!
Afwagting en konsentrasie om die Here te dien!
Hier wil God ons hê. Hier wil ons wees deur die Gees!
Ernest