Geduld is deel van die vrug van die Heilige Gees in ons lewe,
volgens Galasiërs 5:22.

Ons leef dikwels in omstandighede en te midde van mense
wat baie geduld van ons vra. En ons veroorsaak ook self dat
mense baie geduldig met ons moet wees. Ons leef eenvoudig
saam met ongeskikte mense, ongeduldige mense, onverskillige
mense, ongemanierde mense...
Ons kan nie “delete”-knoppies druk om hulle uit ons lewe
te kry nie. Dit is juis ons roeping om ‘n verskil in sulke mense se
lewe te maak en hulle te lei na die regte paaie en wil van die Here.

Die Here weet dat dit nie altyd maklik is om sout en lig
en suurdeeg in hierdie wêreld te wees nie, en daarom gee Hy
self aan ons geduld as vrug van die Heilige Gees.
Geduld vat nie moeilike mense weg uit ons lewe nie.
Maar dit stel ons baie beter in staat om in die liefde van
die Here met moeilike mense saam te leef.
Geduld wat van die Here kom, as vrug van die Gees, verlaag ons
geïrriteerdheid en verhoog ons verdraagsaamheid.
Maar dit doen ook baie meer as net dít. Daar is meer aan geduld,
wat van die Here kom, as om net langer of beter met moeilike
mense oor die weg te kom. Geduld wat van die Heilige Gees kom,
is baie meer as net verdraagsaamheid.

Ware geduld het te make met ‘n doelbewuste leef in die
teenwoordigheid van die Here, en om sy wil te soek in my optrede
teenoor elke mens met wie ek te doen kry. Dit is om met die Here
se genade en liefde in my hart te fokus op my medemens,
as beeld van God en mens van God. Dit is om met die wete dat
God teenwoordig is, te ontspan oor ander mense!
Dit is om te weet God is hier, en Hy oorroep my negatiewe gevoel.
Die Heilige Gees maak dat ek in die omstandighede van ongeduld
God raaksien, en hoor, en raak-leef! Ander se foute en
tekortkominge word kleiner, in die lig van God se teenwoordigheid.
En ék, wat ook in die bepaalde situasie waar ek ongeduldig raak,
saam met die ander persoon voor Hom leef,
besef ook meer my eie foute en tekortkominge!

Wanneer ek onthou die Here is ook op die toneel waar ek
in ongeduld optree, dan groei ek vinnig in geduld onder
leiding van die Gees.
Kom ons neem Kolossense 1:11 as gebed vir al daardie
omstandighede en mense wat geduld-toetsers in ons lewe is:
“Mag God wat oor die mag en die heerlikheid beskik,
julle versterk en aan julle al die krag gee om in
alle omstandighede met geduld te volhard.”

Ernest