Om te wag vra geduld. Ons almal wat in ‘n tou staan
en wag weet dit. Om in verkeer te staan en wag is
nog ‘n groter uitdaging vir geduld.
Ons hou nie van wag nie. Veral nie in ons moderne tyd
van “kits”- dinge nie, soos kitskoffie, kitskos, kitsoplossings...
Dit verskil baie van die Bybelse siening van wag.
Dikwels praat die Bybel van wag, wag geduldig...
Wag op die Here is ‘n refrein wat deur die geloofslewe loop.
Jare het die Jode gewag op die Messias. Jare wag ons nou
weer op die wederkoms. 1 Kor. 1:7:
“Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van
ons Here Jesus Christus.” Ons wag steeds. Wag en verwagting.
Wag is ‘n Bybelse begrip wat geduld vra!
En geduld is inderdaad ‘n deug! Die eerste ding wat Paulus
oor die liefde in 1 Kor. 13 sê is dat die liefde geduldig is!
Geduld is skaars by ons. Maar ons moet ook weet dat geduld die
metgesel van nederigheid is. Geduld is ook die vyand van trots!
Prediker 7:8 sê: “Geduld is beter as hoogmoed.”
Geduld is inderdaad vrug van die Gees!
Hoe kan ons geduld groei?
Sodra jy ongeduldig raak, draai doelbewus na God toe.
Moenie dan op jouself vertrou nie, maar fokus op God.
In God se ekonomie is “wag” nie ‘n vermorsing nie.
Deur te wag, maak God ons ook bewus van ons ongeduld.
Dit laat ons groei in geloof as ons dan ons oog op Hom hou.
Geloof en geduld loop saam.
Paulus koppel ook geduld aan blydskap en dank.
Kyk net hoe beklemtoon hy dit is Kolossense 1:11-12:
“Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om
in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap
moet julle die Vader dank...” Geduld , blydskap, dankbaarheid.
Onthou ook God se geduld met ons, met jou.
Ons is alles verskuldig aan God se genade en geduld met ons!
God is geduldig met Adam, Noag, Abraham, Israel...
deur die geskiedenis en die kruis tot met jou!
Paulus sê daaroor vir ons in 1 Tim. 1:16: “Maar juis daarom was
God my genadig sodat Christus Jesus aan my,
as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon,
en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms
in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.”
Om met geduld te wag is nie sleg vir ‘n gelowige nie.
Om met groot ongeduld te wag is baie sleg vir gelowiges.
Dit gee die duiwel groot vatkans.
Gebruik die onwelkome-wagtye in jou lewe doelbewus,
as geleenthede om God in jou teenwoordigheid te verwelkom,
en jou hart te vernuwe. Vra in die wagtye voortdurend of jou
optrede vir die Here aanneemlik is – Ef. 5:10.
Ernest