Efesiërs 4:1-2 sê baie oor hoe ons met geduld moet leef:
“Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met
die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd
beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.”
Let op die woorde wat saam met geduld gebruik word in
hierdie teks: lewenswandel, roeping, beskeie, vriendelik,
verdraagsaamheid, liefde.
Dit is hoe die Here wil hê ons moet lewe.

God is so geduldig met die mens!
Kyk maar na die geskiedenis met sy volk in die Ou Testament.
Ons kan dit byna nie bedink hoé geduldig God met sy volk is nie.
Hy is keer op keer bereid om sy ongehoorsame volk te vergewe.
God behandel ons met dieselfde geduld.
Hy is altyd bereid om ons nóg ‘n kans te gee.
Geduld is dan ook deel van die vrug van die Heilige Gees.
God wil dit vir ons gee deur die Gees. God gee geduld, en vra dit.
Dit is vrug wat God by elkeen van sy kinders soek.
Daar bestaan nie so iets dat ons kan sê “ek is maar ‘n moeilike
en ongeduldige mens nie”.
Dit is eenvoudig nie vir die Here aanvaarbaar nie.
Gebrek aan geduld is gebrek aan gehoorsaamheid aan die
Heilige Gees wat vir jou die geduld wil gee wat God vra.

Let weer op: In Efesiërs 4:1-2 vra die Here dat ons beskeie,
vriendelik, en geduldig moet wees, en mekaar in liefde
moet verdra. Ons moet vriendelik bly, ook al loop dinge
heeltemal anders as wat ons verwag het.

Hazrat Inayat Khan het gesê dat geduld die moeilikste opdrag
is wat ‘n mens kan kry.
Hoekom? Omdat ons so selfgerig is en onsself wil dien.
Ja, selfs om onsself voor die Here te stel...
Hoe geduldig is jy?

Ernest