Identifiseer die mense of dinge wat jou ongeduldig maak.
Is dit mense naby aan jou? Soos jou gesin of kollegas?
Hou dit verband met tyd? Jy “haat dit om te wag.”
Is jy ongeduldig wanneer jy moeg, honger of vaak is?
Maak spanning jou ongeduldig?
Maak plekke jou ongeduldig, soos om “mall” toe te gaan?
Kyk wat Spreuke 22:3 in die Nuwe Lewende Vertaling sê:
“Iemand wat verstandig is, sien wanneer die onheil kom
en vermy dit. Die onervare mens loop oopoë daarin vas
en boet daarvoor.”
Neem dan doelbewus die besluit om die “onheil” van
ongeduld te oorwin. Jy kan nie al hierdie mense en
situasies vermy nie, maar jy kan in die Naam van die Here
besluit dat jy dit tot sy eer gaan hanteer!
So gaan jy merkwaardig groei in geduld, deur die Gees!

Wees realisties.
Onthou dat die werklikheid nie altyd gebeur soos jy dit
wil hê nie, en ook nie altyd op jou tyd nie.
Tyd beweeg teen die spoed van tyd, en nie teen die spoed
wat jý wil hê nie. Onthou ook dat jy nie die een is wat alles
kan beheer nie. Goddank. Fokus op wat jy kan beheer.
Dit is ‘n lewensfeit dat dit jou nie baat om ongeduldig te
raak of jou te kwel oor dinge wat jy nie kan beheer nie.

Lees weer wat die vrug van die Gees behels. Dit is woorde
en begrippe wat baie naby aan mekaar lê en in die nouste
verband met mekaar staan in ‘n lewe vir die Here:
liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid en selfbeheersing – Galasiërs 5:22-23.
Vers 24 sê in die Grieks iets soos: “Dié van Christus, is mense
wat die hartstogte en die begeertes van hulle sondige
geaardheid gekruisig het.” Met ander woorde,
Christene kruisig ook ongeduld,
want ongeduld is ‘n sondige geaardheid by ons!
Wees geduldig!
Moenie die Heilige gees weerstaan,
wat geduld vir jou gee nie...

Ernest