Ons lees in kolossense 4:9 van iemand wat
nog ‘n kans gekry het. Paulus sê daar:
“Ek het Onesimus gevra om saam met Tigikus
Kolosse toe te gaan. Hy is mos een van julle.
Hy is net so betroubaar soos Tigikus en ons is
baie erg oor hom. Hy is ‘n lojale broer vir ons.
Wat Tigikus vergeet om vir julle van ons te vertel,
sal Onesimus sekerlik byvoeg.”
Onesimus was oorspronklik Filemon se werker.
Sy verhaal het nie so mooi begin nie omdat hy êrens
langs die pad gedros het. Terwyl hy ‘n leeglêer was,
loop hy hom vas in Paulus en hoor so die boodskap
van verlossing in Jesus Christus.
Dit draai Onesimus heeltemal om! Wat ‘n mooi verhaal.
Hy was eers op die verkeerde pad, gladnie betroubaar nie,
het net aan homself gedink, en toe...,
toe hoor Hy die lewens-veranderende boodskap van
Jesus Christus en hy maak ‘n 180 grade omkeer in sy lewe.
Ons raak so maklik so moedeloos met mense wat op die
verkeerde pad is. Dikwels mense baie naby aan ons.
Mense wat verkeerde dinge doen en daarin volhard.
Onesimus was so ‘n iemand. Hy laat almal om hom in die
steek en dink net aan homself. Dalk het Filemon ook al
alle hoop op hom opgegee, en toe hy dros het hy hom uit
verligting laat gaan. Wie weet...
Gelukkig gee God nooit moed op met ons nie, en ook so
met Onesimus. Wanneer jy jou in die boodskap van die
Here “vasloop” verander dit jou lewe.
Ons moet ook nie moed opgee met iemand nie.
God gee ons soveel kanse. Ons moet die oorvloed kanse
wat ons self ontvang ook aan mense rondom ons uitdeel.
Daar is tye wanneer ons ‘n streep moet trek en streng
moet wees. Die vraag bly of jy met oortuiging voor die Here
kan sê dat jy genoeg gedoen het om die persoon te help.
Ons moet iemand wat in die modder is ophelp en bystaan.
Dikwels is dit daardie een hand wat nog ‘n keer uitgesteek
word wat die persoon vir altyd uit die modder haal.
Hoeveel van ons kan nie daarvan getuig dat dit is hoe dit
met ons en God was nie. Dat Hy my nog ‘n kans gegee het,
na soveel kanse, en dat dit my redding was!
Iemand wat dit beleef het sal sy hand oor en oor uitsteek
om iemand anders te help, omdat jy self daar was.
God is ‘n God van nog kanse.
Gee vandag nog ‘n keer vir iemand ‘n kans.
En bid dat hy of sy die 180 grade omkeer sal maak,
deur die genade en krag van die Here!
Ernest