Ons kyk baie keer op na mense in ons lewens wat
ons as ons mentors sien. Ons wens ons kan soos
hulle optree, en dink, en hul wysheid hê.
Hulle is nederig ten spyte van hul kennis en insig.
En tog vertel hulle vir jou dat hulle ook aanvanklik
ingestorm het op baie lewensterreine,
en hul koppe gestamp het. Wat het die verskil gemaak,
vra ons?
En dan hoor jy byna deurlopend hierdie antwoord:
Hulle spandeer elke dag doelbewus tyd saam met die Here.
Hoe meer tyd jy in iemand se teenwoordigheid deurbring,
hoe meer invloed het daardie persoon in jou lewe.
Julle ken naderhand mekaar se manier van doen.
Soos jy en jou vrou, of man. Jy weet waarvan die persoon
hou of nie hou nie. Jy het ‘n aanvoeling daarvoor sonder
om eers daaroor te praat.
In ons verhouding met die Here werk dit ook so.
Kolossense 3:10: “God het egter ook vir julle ‘n nuwe stel
klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut.
Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe
beter ken. Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word
julle soos Hy.”
Dit is ‘n eenvoudige waarheid. Hoe meer tyd jy doelbewus
inruim vir die Here, hoe meer leer jy van sy wil en hoe
om te leef. Ons raak al hoe meer soos Hy.
Ons begin dinge doen soos Hy dit sou doen,
natuurlik deur die Heilige Gees in ons.
Die vrug van die Gees raak al meer in ons lewe.
So verhoog ook ons invloed in die wêreld ter wille van
sy Koninkryk.
So dikwels vra ons: Here, waar is U? Ons wonder hoekom
ons nie die Here se wil kon onderskei nie. Ons wonder
hoekom ons nou in die gemors sit. Wel, die antwoord is
om meer tyd saam met die Here deur te bring.
As’t ware saam met Hom stap vir stap op die lewenspad.
Jy begin dink soos Hy. Praat soos Hy. Doen soos Hy.
En dit is juis God se plan vir ons. Elke mens op aarde moet
meer en meer soos Jesus leef. Vers 10 sê verder:
“...So kom julle al hoe nader aan die doel waarvoor God
julle gemaak het. God het ons gemaak om almal soos
Christus te wees.”
Dan kry jy hope energie om te leef waarvoor God jou hier
geplaas het. Om jou roeping uit te leef. En hoop en vreugde
en vrede vloei uit jou! Mag ons doelbewus soveel tyd in die
teenwoordigheid van die Here leef, dat ons meer en meer
soos Hy leef! Mag ons meer en meer dink soos Jesus,
praat soos Jesus, doen soos Jesus.
Ernest