Ons kies vriende wat so min of meer soos ons is.
Ons kies skole soos ons vir ons kinders dink.
Ons kies ‘n kerk wat pas by ons bedieningstyl.
Ons kies saam met mense wat soos ons dink en
praat dan van “ons”, wat min of meer dieselfde dink,
en “hulle” wat anders as “ons” dink.
Die Engelse het ‘n woord wat min of meer sê:
“Birds of the feather flock together”.
In Afrikaans praat mense van “ons dam se ganse”.
Daar is niks mee verkeerd om dieselfde as ‘n groep
ander mense te dink en saam met hulle te beweeg nie.
Die verkeerdheid kom egter in as “ons” begin neersien
op “hulle”. Ons begin dan etikette om mense se nekke
hang sonder om hulle regtig te ken, of sonder om te
weet van waar af hulle kom. Ons ken nie hulle
geskiedenis van swaarkry, verlies of pyn nie.
Ons weet nie waar hulle in die lewe was, en van waar
af hulle al moes terugdraai nie.
Ons lewer kommentaar oor waar hulle bly,
wat hulle besit, waar hulle werk, of nie werk nie,
hulle skole, hulle kerke, hulle leefwyse...”ons” en “hulle”.
Dit kan mense wees wat “beter af” as ons is,
of “slegter af” as ons is, maar nie “soos ons” is nie.
En eintlik het dit niks uit te waai met waaroor dit eintlik
gaan nie. Kolossense 3:11 stel dit in Die Boodskap
baie duidelik aan ons soos volg:
“…God wil nie hê mense moet met mekaar vassit omdat
hulle nie dieselfde lyk of nie dieselfde taal praat nie.
Dit maak nie vir Hom saak of iemand nog altyd ‘n
kerklidmaat was en of hy eers laat in sy lewe ‘n Christen
geword het nie. Hy vra nie of iemand kan lees of skryf en
waar hy vandaan kom nie. Nog minder vra hy hoe
belangrik iemand in die gemeenskap is en of hy ‘n goeie
werk het of nie. Al wat God vra, is of Christus in iemand
se lewe is. Want al wat regtig in die lewe tel,
is net Christus.”
Ons kan maklik op soveel verkeerde dinge in mense se
lewens konsentreer. Dinge wat vir God nie saakmaak nie.
God het net een vraag: Wie is Christus in jou lewe?
Is Christus alles in jou lewe?
Het jy dieselfde passie vir mense as wat die Here het?
Wil jy hulle ook vir die Here wen? Net Christus gee waarde
aan “ons” lewe en aan “hulle” lewe. Net Hy. Niks anders nie.
Nie ‘n motor, huis, woonbuurt, skool, klere aan jou lyf,
of wat ánders ookal nie, as net Christus!
Jy is so waardevol vir God dat Hy sy enigste Seun gee
sodat jy die lewe kan hê, en dít in oorvloed. Die léwe.
Die ware ewige lewe. Die Lewe met ‘n hoofletter!
En elke ander mens, elke een van “hulle”,
is net so belangrik vir God as wat jy is.
Kom ons leef so dat ons ander mense wat aan die “hulle”
groep behoort na Jesus toe leef. Hoe ons met hulle praat,
oor hulle praat, vir hulle doen, of nie aan hulle doen nie, alles!
Alles ter wille van die Here wat vir elke mens gesterf het
en elke mens intens liefhet.
Dalk is jy die enigste een wat vandag Jesus aan “hulle”
gaan voorstel, waar jy “hulle” raakleef.
Mag God ons help om so te lewe dat Jesus ook deel word
van almal rondom ons se lewe, sodat ons almal,
in Christus!...deel van “ons” kan word.
Ernest