Ons hoor so baie hierdie boodskap: Jy is vir God spesiaal.
Moenie dat hierdie boodskap vir jou afgewater raak nie.
Dit is nie mense van selfhelp-kursusse wat dit uitgedink
het nie. Ook nie mense wat goed-voel kursusse aanbied nie.
Dit is die Here self wat dit sê! In Kolossense3:12:
“God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld.
Hy is baie lief vir julle.”
Kyk mooi wat die Bybel hier sê. God self sê dit. Iets wat God
self sê, moet nooit vir ons gewoon raak of trefkrag verloor
omdat ons dit gereeld hoor nie.

Jy is ‘n baie spesiale mens. Al voel dit nie vir jou so nie.
Al dink jy tans nie so oor jouself nie. Jy is vir God een van sy
spesiale kinders. Uniek geskep deur Hom!
Hy het jou al gekies voor jy nog gebore is, sê Efesiërs 1,
voor die grondlegging van die wêreld af!
Hy weet jy is spesiaal en uniek, want Hy het jou gemaak,
uniek geskep! God skep nie minder nie, as juis Goddelik!
Jy is deel van God se beste skepping! Die unieke jy,
is God se unieke beste soos Hy dit wil hê.
Daarom is jy God se oogappel.

Dit is vir ons moeilik om te glo omdat ons onsself ken.
Ons kan dit nie glo dat God ons kies en ons liefhet nie.
En dan wil ons ons waarde baseer op wat ons oor onsself dink,
in plaas van wat God, ons Maker oor ons sê.
God het jou gemaak. Wat ons doen verander nie ons status
oor hoe God oor ons as sy skeppingswerk dink nie.
Ek het wel al baie skade aangerig, ook aan myself,
deur my eie optrede en keuses.
Maar dit trek nie ‘n streep deur God se status as my Skepper nie.
Dit trek ook nie ‘n streep deur sy liefde wat Hy vir my het nie.
Of sy genade nie. Verseker maak my verkeerde dade die Skepper
Vader se hart seer, maar ek trek nie daarmee ‘n streep deur die
feit dat Hy my gemaak het en my liefhet nie.

God het my geskep, gekies, al verstaan ek dit nie.
Dit is ‘n Bybelse waarheid.
Onthou altyd hierdie drie belangrike waarhede:
God het jou gekies.
Jy is vir God spesiaal omdat Hy self jou geskep het.
God het jou lief!

Ernest