Ons moet die regte besluite neem ter wille van
die eer en wil van die Here.
Waarop baseer ons die besluite wat ons neem?
Hoekom loop besluite dikwels verkeerd?
Vra ons verkeerd? Luister ons nie? Of luister God nie?
Of verskil ons en God se wil?

Daar is makliker en moeiliker besluite, maar alle besluite
het gevolge. Ons moet onthou dat ‘n besluit ‘n beslissing
of ‘n vasgestelde plan is. Dit is om, na oorweging,
iets vas te stel. Om ‘n besluit te neem is nie maar net ‘n
wens nie, maar ‘n aktiewe keuse vir ‘n bepaalde rigting.
Soos die dissipels wat opstaan en Jesus volg op sy opdrag:
“Volg My!”.

Ons kan nie ons lewe op verkeerde dade en besluite bou nie,
want dit is soos om op sand te bou. Besluite wat ons om
verkeerde redes neem is nie net ‘n tydelike saak nie.
Dit affekteer jou hele lewe vorentoe.
Daarom moet ons ons besluite grond op die Woord van
die Here en ons waardes daaruit.
Die digter in Spreuke sê dat ons God eerste moet stel as ons
besluite neem. Wat is regtig jou waardes en prioriteite?
Is God net êrens ‘n punt op jou lys, of laat jy Hom jou hele
lewe bepaal? Ons moet na die wil van die Here soek en
op Hom vertrou. In Habakuk 10:13-14 lees ons:
“Omdat jy vertrou op jou eie planne en op jou baie soldate,
sal oorlog teen jou volk losbreek en sal al jou vestingstede
verwoes word.”

Dit is ook nie altyd wát jy besluit nie, maar hoé.
Gaan dink mooi oor wat God vra van jou lewe.
Maak seker van jou bestemming voor jy die reis aanpak.
So moet jy vir die Here leef op pad na jou besluit se
bestemming. Die Woord van die Here is jou rigtingwyser.
Gehoorsaamheid aan die Here is jou hoofdoel.
“Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou” – Psalm 32:8.
Luister na die Woord van die Here. Hy wil jou lei!

Ernest