Dikwels dink ons: Hoekom het God nie maar net
“dit” of “dat” gedoen om die probleem op te los nie?
Kon die Here nie net swaar reën uitgiet op die Knysna
brande nie? Of op die Kaapse droogte nie?
Hoekom “doen die Here nie iets nie?”
Reeds in die Bybel se tyd het mense baie vrae gehad
as die lewe nie vir hulle sin gemaak het nie.
Die Psalms wys dit baie mooi aan ons.
Daar is Psalms van oriëntasie.
Hierdie Psalms sê die lewe is eenvoudig en voor die
hand liggend.
“Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra, en waarvan die blare
nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak”
– Psalm 1:3
Boosheid word altyd gestraf en die goeie word altyd beloon.
Dit help ons om te leer om God te vertrou.
Maar dit kan te eenvoudig klink vir mense in ‘n krisis, met seer.
Daarom is daar ook die Psalms van disoriëntasie.
Hierdie Psalms bevat selfs ‘n ondertoon van woede!
“Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here,
voordat U uitkoms gee?” – Psalm 6:4.
Hier word nie voorgegee dat die lewe eenvoudig is nie.
Of dat daar maklike en reglynige antwoorde is nie.
Ons word die ruimte gegun om vrae te vra en te twyfel.
Die kruis het vir ons kom leer hoe God is.
Vol liefde, genade en vergifnis. God vereenselwig Hom met
mense wat swaarkry en Hy is ‘n God wat saam met hulle ly.
Dit beantwoord nie noodwendig ons vrae nie,
maar dit laat ons besef dat ons gelowig vrae mág vra.
Hierdie Psalm skrywers het nie gevoel dat dit nodig was om
op te hou glo as die lewe nie sin maak nie.
Hulle het met die een hand met die Here baklei,
en met die ander hand aan Hom vasgehou.
Ons kan en mag “gelowig worstel”.
Daar is ook Psalms van heroriëntasie.
Die Psalms waar die skrywer aan die begin by die Here pleit,
en aan die einde Hom prys. Dikwels kom daar ‘n onvoorsiene
uitkoms. Die antwoord op gebed is selfs verrassend.
Daar is gelowig deur die probleem geworstel, en nou
heroriënteer die skrywer hom en stap ‘n nuwe pad van
vertroue saam met die Here.
Ons almal sou wou hê dat die lewe eenvoudiger moes wees.
Terugslae moet ons egter nie ongelowiges maak nie.
Deel van ons gelowige groeiproses is om te leer hoe om met
meer vrae as antwoorde saam te leef – en steeds te gló!
Ernest