Ons kies nie eerste vir God nie. God kies eerste vir ons!
God het jou gekies voor jy kon kies. Dit is genade.
Want dit is ook net Hy wat dit dan vir jou moontlik maak
om Hom te kies!
Kyk hoe staan dit in Kolossense 3:12: “God het julle gekies.
Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle.
Daarom moet julle die “klere” aantrek wat by julle pas.
Jy moet baie vir ander mense omgee en gaaf met hulle wees.”
Hierdie woorde wil jou laat bokspring van vreugde as jy die
betekenis daarvan ontdek en aangryp met jou hele lewe.
Die almagtige, grote God, het my gekies! Ek is vir Hom spesiaal,
ten spyte van. Hy het my lief, ten spyte van.
Hierdie drie dinge laat iets in jou roer wat jou hele lewe omkeer
as jy dit ten diepste ontdek:
God het my gekies. Ek is vir Hom spesiaal. God het my baie lief!
Dit is te groot om jou onveranderd te laat as jy dit met jou
hele hart glo. Dit is te veel om vir jouself te hou.
Jy leef dit na ander toe! Die “klere” wat ons moet aantrek
wat by ons pas, is die lewe vir die Here deur die vrug van die
Heilige Gees. Jou lewe pas by dit wat jy glo.
Mense wat langs jou leef moet dit sien en beleef in jou lewe.
Dit mobiliseer ons om regtig om te gee vir mense en gaaf met
hulle te wees, soos die teksvers sê. Die mense om jou kom
agter dat jou lewe verander het. Hulle wat naby aan jou leef.
Hulle wie ons nie maklik kan bluf nie. Jy is nie meer in die
middelpunt van jou lewe nie, en hulle sien en ervaar dit.
Die Heilige Gees laat jou nou eerste aan ander mense dink.
Dit laat jou ook die waarheid ontdek dat God ook ander
mense rondom jou gekies het, soos Hy jou gekies het.
Hulle is ook vir Hom spesiaal, en Hy het hulle ook so lief,
soos vir jou. Jy is nou een van die wat minder in die
wêreld geword het, sodat God oral meer kan word!
Ernest