Hoekom wil ons so sterk op ons punte staan,
en nie ruimte gee vir ander mense nie?
Is dit omdat die Here nog nie deel genoeg is
van ons uitlewing van ons geloof nie?
Hoekom dink ons so maklik net aan onsself?
Die Here wil tog deur ons vir hulle wys dat Hy
ook vir hulle wil kies, dat elkeen van hulle vir
Hom spesiaal is en dat Hy hulle liefhet! Deur ons!
Ons wat in die goeie nuus van die Evangelie glo,
moet tog die nuus uitleef.
Paulus gee praktiese raad sodat ons ophou
koppe stamp met mense:
“...jy moet baie vir ander mense omgee en gaaf
met hulle wees. Wees op jou plek en moenie
te veel van jouself dink nie. Moet ook nie ongeskik
met mense wees nie, maar hanteer hulle mooi.”
– Kolossense 3:12.
Ons praat so maklik met smaak hoe ons iemand
vir een of ander rede op hul plek gesit het.
Al was die persoon skuldig, is dit die vraag of dit
die beste is hoe ons dit kon hanteer?
En gooi ons nie olie op die vuur van ander mense
wat nog sulke situasies moet gaan hanteer nie?
Die resultaat hiervan is dat ons ongeskik raak
met mense, en ander mense ook ongeskik met
mekaar maak. Wat is veral ook die voorbeeld
wat ons stel aan hulle wat opkyk na ons toe?
Kom ons dink weer mooi oor waar ons koppe
stamp met mense...ons geliefdes, ons vriende,
personeel of werknemers, mense wat ons bedien
in restaurante en by bedieningspunte. Dit is dikwels
erg om net te sien hoe mense kelners hanteer...
Daar gaan verseker tye kom wat ons teleurgestel word,
of verskil van mense, of nie goeie diens ontvang nie.
Vraag is: hoe hanteer ons dit?
Die lewe gaan altyd vol wees van mense wat ons
in die steek laat. Die vraag is of ons dit oplos soos die
Here dit wil hê? Of staan die eie ek voor die Here?
Ken jou plek en gee ruimte vir ander mense om onder
die genade van die Here te leef, soos jy.
Maak daardie verskil in die lewe van mense,
deur regtig om te gee en ruimte te gee.
Ten spyte van...
Ernest