Die Here Jesus vertel ‘n gelykenis van ‘n man
wat miljoene geskuld het. Die man was bankrot
en kon nie die geld terugbetaal nie. Die koning wou
hom in die tronk laat gooi, maar nadat hy gesmeek het,
het die koning se hart sag geword en al sy skuld afgeskryf.
Buite die paleis loop die man toe iemand raak wat hom
net ‘n paar duisend rand skuld. Hy het sy geld geëis en toe
die man nie kon betaal nie, het hy hom in die tronk laat gooi.
Toe die koning van die storie hoor, was hy woedend en het
die man in die tronk laat gooi waar hy gemartel is.

Wat maak jy met die skuld van mense?
Daardie skuld is nie net altyd geld nie, maar ook foute wat
mense teenoor jou gemaak het, en wat jy as skuld teen hulle hou.
Ons vergewe hulle nie vir dit wat hulle aan ons gedoen het nie.
Ons bly die splinter in hulle oog beklemtoon, ten spyte van
die balk in ons eie oog. Tog vergeet ons dat Jesus alreeds ook vir
ons skuld betaal het, en dat Hy ons boomstompe uit ons lewe
verwyder het. Ons het self nie meer ‘n swaar sak vol foute wat
ons moet rondsleep in die teenwoordigheid van die Here nie, maar
ander mense moet hulle foute ten opsigte van ons bly ronddra.

Nou kom die moeilike gedeelte, of is dit moeilik?
Dit is die opdrag: “Gee mekaar ‘n kans sonder om mekaar met
kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby.
Die Here het immers by al julle foute verbygekyk.
Daarom word niks minder van julle verwag nie.”
Dit is nie so maklik nie. Veral as dit mense is wat naby jou leef.
God wil hê ons moet die vryheid wat Hy vir ons gee,
aangee aan die mense rondom ons. Vergewe is nie maklik nie,
maar God verwag dit van ons. Ons moet vergifnis uitdeel,
soos God dit aan ons uitdeel. Kom ons saai God se genade,
wat ons in oormaat ontvang, ook oor ander mense.

Ernest