Wanneer ons God slegs raaksien op die
plekke waar ons Hom normaalweg verwag,
gaan ons Hom ook net daar raakloop.
Dink mooi daaroor. Ons verwag Hom in die kerk,
of daar waar ons bid en Bybel lees. Ons verwag
Hom in kontak met medegelowiges. Maar min
kere verwag ons Hom op verrassende plekke.
Min kere verwag ons Hom by stukkende, arm,
en weerlose mense. Nog minder verwag ons die
Here by andersdenkende mense, ongelowiges,
of vyandiges. Maar Hy is juis ook daar. Hy is orals!
In die lig, in die donker, van die kerk tot by die werk.
Die hospitaal tot die kroeg. Hoeveel evangeliste het
nie al mense in ‘n kroeg na die Here gelei nie!

Om anders te kyk is om anders te dink.
En om anders te dink, is ook om anders te kyk!
Daarom dat ons moet verskuif aan ons manier van dink,
en sien. Ons moet dinge begin raaksien wat ander mense
miskyk of nie wil raaksien nie. Ons moet die onsienlike
God raaksien, raak-kyk, waar ander mense net
moeilikheid sien, of hopeloosheid sien, of waar hulle net
mooi niks sien nie! Want God is daar! Ons moet leer om
die Here op alle plekke raak te sien en “raak te leef”.

Moeder Teresa het die opmerking gemaak dat
armes en stukkendes eintlik Jesus se vermomming is.
Baie mense haal dit aan maar glo dit nie eintlik nie.
God is orals. Regtig. Ons neem God nie na plekke of
gaan stel Hom bekend op plekke waar Hy nog nie is nie.
Hy was al daar voor ons bestaan. Totdat ons dit glo
en besef, bly ons siende blind.

Om God regtig nuut in ons lewe te ontdek,
is om te kyk totdat ons Hom orals sien,
en saam met Hom orals lewe. Hy is in die motor langs ons.
In die tou van die supermark voor en agter ons.
Op die parkeerarea. Op die pawiljoen. Op die veld.
Oral waar jy leef en kyk, en sien. Verwag Hom oral.

Ernest