God se Woord is die roete na sy hart.
In enige dieper reis saam met God speel die
Woord ‘n deurslaggewende rol.
Maar daar is baie meer nodig as om maar net
elke dag ‘n paar verse te lees.
Ons gaan God nie dieper ontdek as ons nie sy
Woord regtig lees en oordink en uitleef nie.
Deur die jare het die gedagte posgevat dat God
by uitstek deur enkelverse praat.
Dit laat mense fokus op indiwiduele Bybelverse
wanneer hulle “Skrif kry”, en nie op die konteks
en wyer en dieper betekenis nie.
Natuurlik praat God ook deur enkelverse.

Maar om dieper te groei in jou kén van God en
leef saam met, en vir Hom, kan ons nie volstaan
met ‘n Bybelvers per dag op jou selfoon,
of net konsentreer op God se beloftes nie.
So ‘n hantering van die Bybel grens aan
geestelike noodhulp. Dit bring nie diep en
volgehoue geestelike groei nie.
Die Woord moet oordink word.
Daaroor moet gereflekteer word.
Dit moet onder leiding van die Gees geleef word.
Dit is duidelik dat mense gereeld enkelverse lees,
maar dat dit nie oorspoel in die lewe rondom hulle
nie. Hierdie enkelverse is dikwels gerig op jouself.

Uiteindelik moet die Bybel nie net ‘n leesboek
wees nie, maar ‘n geestelike werkboek word!
Dit moet ‘n Werkboek van die Heilige Gees word
wat ons en ons wêreld verander.
Ons moet elke dag die Woord lewe toe vat!
Josua 1:8 sê dit moet die rigsnoer wees vir alles wat
ons sê, dat ons dit dag en nag moet oordink,
en uitvoering gee aan alles wat daarin staan.
Deut. 6:7 sê ons moet dit inskerp by ons kinders,
en met hulle daaroor praat in ons huise, op pad,
as ons gaan slaap, en as ons opstaan...
dit is baie meer as ‘n vers per dag...

Ernest