Die Bybel vorrm nie direk deel van die
gemiddelde gelowige se dag tussen 5 en 8 nie.
Die Bybel word dikwels geïsoleer tot ‘n geestelike
teks wat by die huis gelees word, in die aand voor
slapenstyd, enkele verse op ‘n slag, en hoofsaaklik
uit “gewilde” gedeeltes waarvan mense hou.

Verder word Bybelse ervarings maklik privaat en
persoonlik hanteer. Dit is bedoel vir spesifieke
geestelike spasies, in plaas van die gewone verloop
van die dag waar ons lewe. Mense verwag gewoonlik
nie om die Bybel buite die spasies van stiltetyd,
erediens, of selgroep raak te loop nie.

Maar ons moet onthou dat die Woord van God die
Leefboek vir gelowiges is! Ons moet die Woord
dieper lees en leef, oral waar ons leef.
Ons moet dit dag en nag oordink, sê Josua 1 en Psalm 1.
Die Woord moet verskuif van ons lees, na ons denke,
na ons hart, na ons lewe.
Indien dit nie gebeur nie, sal ons nié verby die gebruik
van Bybelverse vir noodhulp groei nie.

Die Bybel kan nie net ‘n Stiltetyd boek bly nie.
Die Bybel moet saamreis met die res van ons lewe en
soos sout en suurdeeg ons hele lewe verander.
Ons kan nie leef met ‘n skeiding tussen “geestelike lewe”
en “regte lewe” nie. Ons het net een lewe.
En God is Here oor ons ganse lewe. Ons is per definisie
geestelike mense, oral waar ons leef, omdat die
Heilige Gees in ons woon en leef!

God se teenwoordigheid moet deurgaans deurkom in
alle plekke waar ons teenwoordig is. Ons word nie eers
“geestelik” wanneer ons met God of oor God praat nie.
In sulke tye is ons maar net self méér bewus van sy
deurlopende teenwoordigheid in en deur ons.
Wanneer Paulus in 1 Tess. 5:17 sê: “Bid gedurig”,
dan beteken dit ‘n leefwyse van gebed, ‘n leefwyse van
in die teenwoordigheid van die Here te leef.
‘n Leefwyse van aanbidding. Dit beteken tog nie om
heeltyd op jou knieë te staan nie.
Dit beteken om te leef met die bewussyn dat God
teenwoordig is.

Ernest