Daar is ‘n interessante Engelse spreuk wat sê:
“If you want to go fast, go alone.
If you want to go far, go together”.
Die feit is egter, hoe vinniger jy leef,
hoe eensamer word jy.
Later kan niemand meer byhou nie.
Hulle hoor letterlik niks wat jy sê as jy teen
hoë spoed verby hulle leef nie. En jy hoor ook
nie meer wat ander mense vir jou wil sê nie.
Dit maak geen sin om teen hoë spoed verby
mense te leef nie. En eintlik leef jy ook by
jouself verby.

Stadiger leef beteken om jouself raak te leef,
en ook om saam met ander te leef. Dit is wat die
Here se bedoeling met ons is. Die Here het gekies
om presies dit te doen. Daarom het Jesus teen die
regte leefspoed op aarde kom leef. Miskien sou ons
sê dat Hy, as Hy vandag gekom het, baie vinniger
sou leef. Dit is egter nie die Bybelse boodskap nie.

Jesus kom leef teen die leefspoed wat God bedoel.
Om by jouself, en mense, en veral by God uit te kom.
Dit maak nie saak in watter eeu jy leef nie.
Dit is die spoed wat God van jou vra.
Kry jy dit regtig reg teen die spoed waarop jy tans leef?
Wie beïndruk jy met jou spoed? Wie wil jy beïndruk?

Jesus is tegelykertyd stadig en vinnig genoeg om saam
met ons te leef. Stadig genoeg om by jou uit te kom en
tyd vir jou te maak, altyd, en vinnig genoeg om vinniger
as die spoed van ligjare jou te hulp te snel in nood.
Dit is Jesus se spoed omdat Hy toelaat dat sy liefde vir
God die Vader, en vir mense, sy spoed bepaal.
Vinnig en stadig tegelyk. Afhangend van die mense
rondom Hom se nood, en sy Vader se wil.

Hy het jou toegerus om ook, soos Hy, te kan beweeg teen
die spoed wat God wil hê jy moet leef. Hy doen dit deur
die Heilige Gees wat in jou woon. Jesus se pas is die
van genade en liefde. Hy wil ook deur jou daardie pas
handhaaf in jou kontak met mense. Ons kan ons spoed
verminder om saam met Hom en ander te loop en te leef.
Ons hoef nie teen hoë spoed bymekaar verby te leef nie.
Ons is aan mekaar gegee. Ons is bedoel om in pas met
God te wees en te leef. Die tragedie is ongelukkig dit:
in jou hoëspoed lewe, leef jy meestal by God verby...

Ernest