Ons sien dikwels hoe twee spanne wat teen
mekaar sport gaan speel al twee bid.
Dit laat mense vra aan wie se kant God dan is?
Veral as al twee spanne bid om te wen,
en hierdie wedstryd eintlik klein is in die groter
prentjie van die lewe! Bid hulle nou teen mekaar?
En wat maak God daarmee? Dit laat jou mooi dink
wat jy nou eintlik moet bid. Mense aan die ander
kant praat met dieselfde Here!

In die jare van militêre diensplig en die grensoorlog,
het ‘n soldaat agtergekom sy ma bid vir hom,
en die huishulp wat by hulle werk, en self ‘n
toegewyde Christen is, bid ook net so opreg vir háár
seun wat ‘n vryheidsvegter is. Hierdie twee ma’s,
onder een dak, het met dieselfde Here oor hulle
kinders gepraat, wat in twee kampe teenoor
mekaar veg! Dit was ‘n groot dilemma en het groot
vrae laat ontstaan.

Koning Kores van die Persiese Ryk was aan die ander
kant van die godsdienstige draad. Hy was nie iemand
wat die lewende God as die enigste Here aanbid het nie.
Tog hoor ons in Jesaja 45:1 dat hy die Here se gesalfde is.
Hoe dan nou? Dit wil voorkom dat God ook aktief aan
die ander kant van die draad besig kan wees, soos Hy wil,
in die groter perspektief wat ons nie ken nie.

Of dit nou vriend of vyand is, God doen wat Hy wil soos
Hy wil, om sy koninkryk te laat kom.
Daarom is dit nie so maklik om presies vir die Here te sê
wat Hy moet doen nie! Wie moet wen en wie moet
verloor ter wille van “ons” of “my” nie.
Veel eerder moet ons net opreg vra dat dit sal gaan oor
sy koninkryk en sy wil, en dat sy koninkryk moet kom.
En daarmee laat ons die praktiese detail aan die Here oor...

Ernest