Ons kan God ook by detail in ons gebede betrek.
Filippense 4:6 leer dit onder andere vir ons:
“Moet oor niks besorgd wees nie, maar maak in
alles julle begeertes deur gebed en smeking
en met danksegging aan God bekend.”

God stel inderdaad in ons detail lewe belang.
In Matteus 10:30 herinner die Here Jesus ons
immers self dat God al die hare op ons kop tel.
Dit verwys daarna dat God in detail by ons betrokke is.
In Matteus 6:28-30 hoor ons dat God selfs omgee
vir die veld gras en veldblomme wat vandag hier en
môre weg is. God sluit ook die op die oog af
onbelangrike situasies in ons lewe in by sy sorg.

Ons kan regtig opreg vir enige iets bid.
Orals en altyd is God aanwesig.
Daarom kan en moet ons wat ons hele lewe betref
haarfyn binne sy wil leef.
Wanneer ons met die detail van ons lewe na God
toe kom, geld al dieselfde beginsels as wanneer ons
vir die “groot goed” bid. Dit gaan steeds oor sy wil.
Ons pleit altyd en oral dat God se heerlikheid sal
deurbreek en dat Hy geëer sal word.

Ernest