God is onafskeidbaar naby.
Romeine 8:39 is ‘n treffende waarheid hieroor:
“Geen hoogte of diepte of enige iets anders in die
skepping kan ons van die liefde van God skei nie,
die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
Wanneer jy ooit een hoofstuk in die Bybel wil
uitsoek om ‘n kyk in die hart van God te kry,
is dit seker Romeine 8.
Dit vertel van God se reddingsdade,
en die gevolg daarvan vir sy kinders.
Ook staan die werk van die Heilige gees sentraal
in hierdie hoofstuk. Dit is die Heilige Gees wat ons
tot kinders van God maak. Ons wat deur die
Heilige Gees leef en gelei word,
is nou vry van die oordeel. Dit is die Gees wat in
ons hart uitroep: “Abba Vader!”
Ons verbondenheid aan Jesus bevry ons van
vrees en slawerny. Verder tree die Gees vir ons in
en bid vir ons met versugtinge wat nie in mensetaal
uitgedruk kan word nie. As gevolg van sy gebede
laat God sy wil ten goede meewerk in die lewe van
ons almal wat deur Hom geroep is, en gered is.
Romeine 8:31-39 moet jy gaan lees!
In ‘n lof-roep jubel Paulus dit uit oor God se
onafskeibare nabyheid en goedheid.
God is nie net naby ons nie. Hy is onbegrens meer as dit!
Hy is onafskeibaar naby aan ons!
Niks of niemand, ooit, kan ons van die liefde van God
skei nie. Niks. Niemand. Ooit. Ons is Syne!
Dit is wat ons aanhoudend moet onthou en waaruit
ons moet leef.
Selfs al voel ons soos slagskape wat ter slagting gelei word.
Ons moet weet: ons behoort vir tyd en ewigheid aan ons
groot en genadige God!
Hy is onafskeidbaar naby aan ons. Altyd.
Ernest