As ons glo dat God onafskeidbaar naby aan ons is,
dan moet ons lewens tog ook van dit getuig.
Goeie omstandighede of die slegste omstandighede...
Waar lê ons fokus daarin? Is God in ons prentjie, of nie?

Is ons besig om deur hierdie besige lewe van ons vir
God toe te laat om aan ons te verander en sy doel met
ons te bereik. Of laat ons ons so deur ons omstandighede
lei dat ons God buite rekening laat en dat Hy,
met eerbied gesê, buite ons prentjie is?

2 Petrus 1:3 sê: “Die Here se hemelse krag het alles vir
ons gegee wat ons nodig het om elke dag reg te leef
en in ‘n persoonlike verhouding met Hom te staan.
Ons ken God nou op ‘n totaal nuwe manier.
Hyself wat so vol heerlikheid en grootheid is,
het ons elkeen geroep om in Hom te glo.”
Hierdie klem is soveel anders as hoe dit dikwels vir ons
in ons werklikheid lyk. Hier gaan dit oor hemelse krag!
Dit gaan oor ‘n verskriklike groot genadige en liefdevolle
God wat onbeperk krag uitdeel aan sy kinders!
Krag sodat ons reg kan leef en God se wil kan doen,
tot sy eer. Krag sodat ons ons innige verhouding
met God kan bou. God gee dit. God smag daarna.
Al die krag vir die wysheid wat ons so graag wil hê
is beskikbaar! Ja, selfs die krag om in God te glo,
ook dit gee Hy vir ons.

Ons moenie onsself en ons dinge in die middel
van ons lewe gaan staanmaak nie. Dan sal ons
hierdie krag nie ondervind nie. Dan vertrou ons
op onsself en ons dinge. God moet die middelpunt
van ons lewe wees. Hy moenie net hoog op die
lys wees nie. Hy moet ons hele lewe wees!
Psalm 16:5 sê: “Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.”
Elke dag se krag kom van God af. Elke dag se sorg.
Van God wat oor alles heers. Elke greintjie krag
kom van God af. Die Here wil hê ons moet ‘n vol
lewe lei. Hy gee ons alles wat nodig is om dit
te kan doen. Eer Hom met die krag wat Hy jou gee.

Ernest