God gee alles wat ons nodig het. Alles.
En dan vra God van ons geloof en vertroue.
God is so groot en goed! Hy gee alles voor Hy
enige iets vra! Petrus noem dit geskenke.
Petrus praat so prakties oor ons lewe vir en
saam met die Here.
Sou ons ooit heeltemal kon besef hoe lief God
vir ons is?! Seker nooit.
Net so sal ons ook seker nooit besef wat Hy alles
vir ons gee nie. Geskenke op geskenke.
God hou nie op om ons te oorlaai met geskenke nie!
En in dit alles roep God ons om in Hom te glo!
Dit is nie altyd so maklik nie.
Hoekom sterf ‘n ma en bly ‘n pa agter met vier
klein kindertjies?
Iemand anders bid dat die Here deure moet
oopmaak vir werk, en is dan dieselfde dag weg,
“huis toe”. Hoe verstaan ons dat ‘n klein kindjie
kanker kry? Hierdie vrae vra baie vrae na bo.
Stil. Geen antwoorde nie...
En tog, later, deur al die mistigheid, breek geloof
weer deur. Al skree baie dinge wat gebeur teen
dit wat ons so graag wil hê.
Hoekom kan geloof weer en weer bly deurbreek?
God verskaf die moontlikheid om weer en weer
te bly glo! Dit is hoe wonderlik God is. Ons kon nog
nooit vir God met of in ons verstand vasdruk nie.
Genadiglik en Goddank is Hy groter as alle verstand.
Ons sou nooit op ons eie kon bly glo nie.
Ons sou oor die eerste klippie struikel en ons geloof
net daar los waar dit geval het.
Genadiglik gee God vir ons die vermoë om te kan glo,
en weer te glo, en te bly glo.
Kyk net wat sê Petrus in 2 Petrus 1:3 in Die Boodskap:
“...Ons ken God nou op ‘n totaal nuwe manier.
Hyself wat so vol heerlikheid en grootheid is,
het ons elkeen geroep om in Hom te glo.” Sien jy,
Hy roep ons om in Hom te glo! Dan gaan Petrus verder
in vers 4: “Toe Hy dit gedoen het, het Hy boonop die
wonderlikste en die grootste beloftes aan ons gegee.
Sy doel met hierdie hemelse geskenke is om julle
in staat te stel om nee te kan sê vir elke versoeking.”
Onthou, God wil jou nie dwing om in Hom te glo
en Hom lief te hê nie. Liefde word in elk geval nie
afgedwing nie. Ons moet self kies. Maar God help ons!
Hy kies eerste vir ons. En dan gee Hy ons gawes,
hemelse geskenke, soos Petrus dit noem.
Hierdie geskenke maak dit vir ons makliker om in Hom
te glo. Leef naby aan God sodat, wanneer dit vir jou voel
of die wêreld intuimel, jy met die hulp van God se
hemelse geskenke kan bly glo!
Glo dat God onafskeidbaar naby aan jou is!
Ernest