Ons kan nie “rusbank Christene wees
wat verveeld rondsit nie.
Petrus verwys na ons geestelike lewe wat
nie aktief vir die Here geleef word nie. Jou hele
lewe moet aktief vir die Here geleef word!
Daarom sê Petrus dat jy nie geestelik verveeld
kan rondsit nie. Mense kom tot bekering,
en dan is dit asof hulle hul geestelike lewe
“op die ys sit”. Vir wat? Om te wag dat die
hemel kom?
Petrus stel dit só in 2 Petrus 1:8: “As julle al hierdie
dinge doen, as julle al hoe meer leef soos die Here
dit van ons verwag, sal julle nooit verveeld rondsit nie.
Dan sal daar nooit ‘n dag verbygaan dat julle nie voluit
vir ons Here Jesus Christus leef nie. Julle kennis van
Hom sal sommer baie vrug dra in julle lewe.”
Onthou wat in vers 5 staan: “Moenie ‘n enkele oomblik
agteroor sit nie. Sorg dat julle geloof in Christus elke
dag sterker word.” Wanneer jy energie in jou verhouding
met die Here sit, en elke dag saam met God stap,
en getrou lewe aan sy opdrag vir jou lewe,
sal jy nie verveeld rondsit nie!
Jou lewe hier op aarde sal baie vrug dra! Jy is gered om
in die koninkryk van die Here die Here te dien, hier op
aarde, nie om terug te sit en te wag vir die hemel nie.
As ons dit verstaan sal ons regtig lig uitstraal,
sout wees wat smaak gee en bederf teëwerk,
en suurdeeg wat in alles om ons ‘n verskil maak,
ter wille van die Here!
Ons sal trane afvee. Mense optel. Die oor wees wat hoor,
en oog wat sien, voete wat gaan en hande wat doen.
Ons sal waarlik die liggaam van Christus wees.
In dit alles sal die heilige Gees jou krag gee en jou toerus,
want dit is God se wil vir jou lewe.
Vers 3 sê: “ Die Here se hemelse krag het alles vir ons
gegee wat ons nodig het om elke dag reg te leef en in
‘n persoonlike verhouding met Hom te staan.
Ons ken God nou op ‘n totaal nuwe manier...”
Jy sal die krag van God ontvang! Die Here se hemelse krag!
So, wat nou? Ons moet weer opstaan. Ons moet God vra om
ons gehoorsaam te maak aan die Heilige Gees. Alleen sal ons nie.
Ons moet weer “commit” om God eerste te stel in ons lewe.
Dan sal ons opstaan en lééf! Leef voluit vir Jesus en gaan dra vrug.
Vers 5: “Moenie ‘n enkele oomblik agteroor sit nie...”
Vers 8: “...as julle al hoe meer leef soos die Here dit van
ons verwag, sal julle nooit verveeld rondsit nie.”
Ernest