Die bose is deurgaans besig om ons weg te lei
van die spoor waarop ons moet loop. Jesus se spoor.
Hy probeer om ons op ‘n slinkse manier weg te lei.
Stukkie vir stukkie. Eers probeer hy jou net af van
die spoor af kry. Net langs die spoor. En dan nog
‘n bietjie, en nog ‘n bietjie, totdat jy heeltemal van
die spoor af is.

As ons toelaat dat ons geloofs-oortuigings en waardes
stukkie vir stukkie gebuig word, sal ons op ‘n dag
ontdek dat daar nie meer veel oor is van ons
toewyding in lewenswandel vir die Here nie.
Ons loop dan nie meer in sy spoor nie. Dinge waarvan
die rimpelings nie so erg lyk nie, word gaandeweg
branders wat ons heen en weer slaan.

Petrus sê in 2 Petrus 1:9: “Gelowiges wat hierdie
dinge nie hul eie maak nie, en wat nie voluit vir die
Here leef nie, is soos mense met ‘n oogprobleem.
Hulle kan nie goed sien nie. Nog erger, hulle is
heeltemal blind. Hulle het klaar vergeet hoe Christus
hulle van al hulle sondes skoongewas het toe hulle
tot bekering gekom het.”

“Hierdie dinge” waarvan Petrus hier praat, verwys
na die voorafgaande gebed waar Petrus ons gewys
het dat ons die regte dinge moet doen, God moet ken,
selfbeheersing moet toepas, vas moet staan in ons
geloof, God se Naam moet verheerlik, en ander mense
moet dien en help.
Dit is die lewe van Christenwees.

Wanneer ons net ‘n klein bietjie ingee hierop,
en dan weer ‘n klein bietjie, raak ons al hoe meer en
meer van die spoor af. Ons “sien” al minder.
Petrus sê ons is soos iemand met ‘n oogprobleem.
Nog erger. Ons raak heeltemal blind!
Kyk vir ‘n oomblik of jy op die spoor is. Of net langs
die spoor. Of heeltemal van die spoor af.
Gaan kyk ook of daar dinge is wat jy aan die begin
vir die Here en jou medemens met groot vreugde
gedoen het, en wat nou nie meer so is nie.
Maak oop jou oë. Laat die skille afval.
Maak seker dat jy op en in die spoor van Jesus loop!

Ernest